Selfs gedurende die week word geraas gemaak in Kerkstraat, Wellington, met straatpartytjies wat gehou word, lawaaiende motors, klipharde musiek en openlike drankgebruik.Foto:


Asof die lewe nie reeds moeilik genoeg is nie, drom motorryers snags in die middedorp van Wellington saam om hul karre se enjins tot in die vroeë oggendure kliphard te laat grom en die wiele te laat tol.

Dit veroorsaak oorverdowende rusversteuring vir die dorp se inwoners wat deur sogenaamde revving– en spinning-kompetisies gepla word.

“Dit is byna elke naweek se storie,” vertel een Wellingtonner, wat naby Dwergiebos woon. “Ek hoor die geraas wat hulle maak – gewoonlik in Kerkstraat en Hoofstraat – al die pad tot waar ek woon. Dit gebeur snags tot ná middernag waar hulle met hul ‘kompetisies’ hard lawaai en die drank uit die bagasiebakke vloei.”

Video-opnames van dié laatnag-aktiwiteite is onder Wellington-gemeenskapsgroepe op WhatsApp versprei en wys hoe talle motorryers en omstanders die pad in Kerkstraat blokkeer en allerhande chaotiese geraas maak.

Die Drakenstein-munisipaliteit se direkteur van gemeenskapdienste, Gerald Esau, sê verkeersdienste fokus die afgelope maand en ’n half elke naweek van tienuur saans tot vieruur die volgende oggend op onwettige straatrenne.

“Een mens onder die invloed van alkohol is in hegtenis geneem en verskillende boetes is uitgereik – vir ongelisensieerde bestuurders en voertuie en onpadwaardige voertuie.”

Maar, meen Esau, wanneer verkeers-beamptes wel patrolleer, vermy die geraasmakers hulle bloot en hou op raas en jaag terwyl hulle aan diens is.

“ ‘Revving’ is geraasbesoedeling wat deur die polisie of munisipaliteit se wetstoepassers gereguleer moet word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article