Die Paarl is in rou gedompel na die vermoedelike verdrinking van die geliefde, legendariese Paarl kanovaarder Giel van Deventer (72), wie vermoedelik Saterdag (20 Augustus) in die Breërivier naby Swellendam verdrink het.
Van Deventer het aan een van die naweekwedrenne deelgeneem in voorbereiding vir die Breërivier-kanomarathon wat in September plaasvind.Volgens inligting, het Van Deventer se kano by ’n plek in die rivier tussen Drew Bridge en Swellendam ’n boomstomp getref.
Die rivier loop tans sterk weens die afgelope tyd se goeie reëns. Van Deventer en sy kano het onder die water verdwyn.
Van Deventer het vanjaar sy 51ste Bergrivier-marathon voltooi, die meeste nog vir een roeier.Van Deventer was ’n geoute sportman en het verlede jaar in ’n inskrywing op Facebook geskryf dat hy ook in sy leeftyd aan 19 Argus-fietstoere, 24 Orange Descent-kanomarathons, 25 Visrivier-kanomarathons en 38 Breërivier-kanomarathons deelgeneem het. Op 65 was hy die oudste roeier ooit wat ’n senior Suid-Afrikaanse titel in die K.3-afdeling kon wen.
Hy was ook ’n bekende Protea boer op Dutoitskloofpas asook sekretaris van die Bergrivier-besproeiingsraad.
Suid-Kaap polisiewoordvoerder, Sers. Chris Spies, het bevestig dat die polisie Saterdag (20 Augustus) omstreeks 15:00 in kennis gestel is dat Van Deventer verdwyn het.
“Die kanovaarders was besig met kwalifiserende rondtes. Twee van die deelnemers is in stormtoestande vasgevang wat veroorsaak het dat hul kano omgekeer het.”
Spies het gesê dat een van die kanovaarders daarin geslaag het om na die rivieroewer te swem, maar dat Van Deventer onder die water verdwyn het.
Polisieduikers van die Boland en die Suid-Kaap-streke is na die toneel ontbied. Die soektog is laat die middag weens swak lig afgelas en is vroeg Sondagoggend voortgesit.





