Die Paarl bars behoorlik uit sy nate uit!

Dit is die algemene gevoel onder Paarliete met nuwe ontwikkelings wat oral opwip. Dit blyk dat die Drakenstein-munisipaliteit nie skroom om enige ontwikkeling toe te laat nie – selfs die burgemeester het vroeër ontwikkelings in die gebied verwelkom omdat dit noodsaaklike finansiële bystand vir hulle bring.

Maar, is dit ten koste van die jare lange belastingbetaler van die vallei?

Die afgelope maande kry Paarl Post talle klagtes van die publiek oor van hierdie ontwikkelings wat hul gebiede skade mag aandoen.

Een van die mees onlangse klagtes is van die inwoners van die Brug- en Hoofstraat-gebied van die Paarl, waar ’n drieverdiepingwoonstel agter die Engen-vulstasie opgerig gaan word.

Inwoners hier is nie net bekommerd oor die woonstelle wat te naby aan huise in Brugstraat gebou word nie, maar ook dat hul privaatheid hierdeur geskend gaan word. Dan is daar ook kommer oor die toename in verkeer, veral nadat ’n nuwe kuierplek ook in die gebied geopen het.

Om dinge nog erger te maak, blyk dit dat daar in Hoofstraat, hier naby, en in die hartjie van die Paarl se historiese kern, nog ’n woonstelblok beoog word.

Inwoners van Courtrai is ook bekommerd oor die beoogde ontwikkeling van die plaas Picardie wat ook ’n toename in onder meer verkeer in die gebied sal beteken, asook dat dit die estetiese waarde van die gebied gaan bederf.

Inwoners van Kerkstraat in Noorder-Paarl lek steeds hul wonde nadat verskeie pogings aangewend is om die ontwikkeling van ’n meenthuiskompleks op ’n gemeenskapsparkie te keer – dié teenstand het op dowe ore geval.

Die lys van bekommernisse gaan aan.

Vrae wat egter ontstaan, is of die infrastruktuur van die gebied die bykomende mense en verkeer sal kan dra. En veral Paarl se Hoofstraat-verkeer in spitstye asook die vloei van verkeer oor die Bergrivier is kommerwekkend.

Jacqui Samson, uitvoerende direkteur: beplanning, ontwikkeling en menslike nedersettings by die munisipaliteit beantwoord vrae hieroor:

Hoeveel ontwikkelings word tans in die Drakenstein gebou en hoeveel is goedgekeur wat vanjaar nog sal begin? Watter bepalings neem die munisipaliteit in ag wanneer hy ontwikkelings goedkeur?

Drakenstein-munisipaliteit volg ’n noukeurige proses wanneer dit by die goedkeuring van ontwikkelings kom. Ons volg stadsbeplanningswetgewing wat voorskrifte bevat van wat in ag geneem moet word tydens die evaluering van voorgestelde ontwikkelings vir besluitneming. Daar is tans verskeie goedge­keurde ontwikkelings waar bouwerk reeds ’n aanvang geneem het.

By die oprig van woonstelle, wat in reeds beboude gebiede beplan word en inbreuk maak op mense se privaatheid en ’n impak het op die reeds druk verkeer, hoe besluit die munisipaliteit op die geldigheid van so ’n ontwikkeling en word huidige inwoners se vertoë hoegenaamd in ag geneem?

Aansoeke word in die plaaslike media en op die munisipaliteit se webtuiste geadverteer vir kommentaar deur belanghebbendes. Alle kommentaar wat ontvang word, vorm deel van die besluitnemingsproses ingevolge bovermelde wetsvoorskrifte.

Met die toename van verkeer, word daar na enige toekomsplanne gekyk om die druk op ons paaie te verlig?

Verkeersimpakstudies is ’n vereiste vir nuwe ontwikkelingsaansoeke en word deur die ontwikkelaars se verkeersingenieurs uitgevoer. Die verkeerstudies word dan deur die Drakenstein-munisipaliteit se siviele-ingenieursafdeling geëvalueer, en in sommige gevalle, deur die provinsiale regering se verkeersingenieurs.

Dié studies is onder meer verkeerstellings, modellering van die huidige en toekomstige verkeer, asook voorstelle vir opgraderings in die padnetwerk waarvoor die ontwikkeling dan verantwoordelik sal wees. Die munisipaliteit se ingenieursafdeling beskik verder ook oor ’n vyfjaar-verkeers- en padnetwerkmeesterplan wat dieselfde analise behels vir die groter Drakenstein-munisipale gebied, en die nodige opgraderings aanbeveel om verkeersvloei te verbeter.

Kan ons huidige infrastruktuur al hierdie ontwikkeling dra?

Soortgelyk aan die verkeersimpakstudies, moet nuwe ontwikkelings die nodige ingenieurstudies vir elektrisiteit, water, riool, stormwater en vullishantering indien saam met die ontwikkelingsaansoek. Dié studies moet in ooreenstemming wees met die verskeie afdelings se meesterplanne en die ontwikkelaars word ook verantwoordelik gehou vir die nodige opgraderings wat deur die studies aanbeveel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article