Kragkabels en des meer word nou daagliks dwarsoor die vallei uitgegrawe deur skrootdiewe.Foto: DFW


Kabeldiefstal is steeds ’n groot kopseer in die Drakenstein, en die doeltreffendheid van die munisipaliteit se taakspan wat die probleem moet aanpak, word bevraagteken nadat hulle al sewe maande in diens is.

’n Reaksiebeampte vir ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy sê met die baie voorvalle van kabeldiefstal wat hy week ná week aanskou – veral in die Suider-Paarl-omgewing – het hy nog nooit van die Drakenstein-munisipaliteit se kabeldiefstal-taakspan gehoor nie. Hy meen as dié taakspan met ander veiligheidsrolspelers in die gemeenskap hande neem, kan dit meer doeltreffend in die voorkoming van die kwessie wees.

“Die ouens kom in die oggendure en dan kom grawe hulle die kabels uit. As ons [veiligheidsmaatskappye en die munisipaliteit] kan saamwerk en ons het kommunikasie waar ons hulle direk kan roep en sê ons het ’n vermoede van enige kabeldiefstal wat aan die gang is, kan die reaksietyd van die taakspan nog beter wees.”

Die reaksiebeampte, wat nie by name genoem wil word nie, sê hy het verlede week op ’n voorval van kabeldiefstal in Suider-Paarl naby die KWV reageer.

“Hulle grawe dieper as kniediepte. Ek vermoed dit is seker meer as 10 ouens wat saamwerk, want daai kabels is baie lank. Dit is kabels van 50 meter. Dit is lank stukke kabels wat hulle uithaal, en die ouens kom met pikke en grawe. Die manne wat so by die kabeldiefstal betrokke is, ken die gebiede ook baie goed.”

Pomphuise op plase is ook ’n gereelde teiken, en hy sê hy vermoed die kabeldiewe het waarskynlik voorheen op die plase gewerk.

“Ons vermoed hulle het op die plase gewerk en weet waar die pomphuise is. Party plase se pomphuise sit teen die treinspoor. Jy sal nie weet waar dit is as jy nie op die plaas gewerk nie.”

Hy sê die kabeldiewe bring ’n granietblok saam, waarop hulle die kabels in korter stukke sny. Daarna brand hulle die kabels skoon – onder die Aboretumlaan-brug naby Paarl Mall.

Beurtkrag het ook nou ’n groot faktor geword. Die beampte verduidelik weens die beurtkrag-skedule wat uitgereik word, weet die diewe wanneer om kabels uit te grawe en te knip.

“Dit veroorsaak baie steurings as kabeldiefstal nie hokgeslaan gaan word nie, of as die eenheid nie sy kant kan bring nie. So, ’n eenheid soos die munisipaliteit se kabeldiefstal-taakspan kan werk, maar dan moet almal saamwerk.”

Volgens nóg ’n reaksiebeampte wat in ander dele van die Paarl werk, het kabeldiewe die afgelope naweek kabels in Chicago, Paarl-Oos, gesteel.

“Ja, kabeldiefstal is ’n kopseer hier in die Drakenstein. Die diewe het drie kragbokse in Chicago gestroop, en nog een in Blesbokstraat. Hulle het ook die straatligte se kragboks by Steenbokstraat se hoek gestroop en die Bosbok-woonstelle asook Klipbok-woonstelle geteiken. Dit het alles die afgelope naweek gebeur. Die woonstelblok in Blesbokstraat is nou al sowat drie dae sonder elektrisiteit.”

In nog ’n geval van kabeldiefstal het die Drakenstein-plaaswag aan die einde van Oktober 2021 gesien ’n lamppaal in die Klein Drakenstein-omgewing is gevandaliseer en hulle het dit deur die munisipaliteit se ClickFix-app aangemeld. Talle vergaderings is glo gehou, maar geen aksie van die munisipaliteit se kant nie. Sover is ses lamppale in dieselfde omgewing uitgegrawe, waarvan die kabels gesteel is.

Gerald Esau, Drakenstein se uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste, sê van Januarie 2022 tot Junie 2022 is 109 voorvalle van kabeldiefstal in Drakenstein aangemeld. Volgens Esau is 12 mense reeds weens kabeldiefstal sedert die ontstaan van die taakspan in hegtenis geneem. Een van die diewe is skuldig bevind en gevonnis.

“Die taakspan se interne rolspelers sluit die munisipale afdelings parke, wetstoepassing en veiligheidsdienste, elektro-tegniese dienste (ingenieursdienste), en verkeer in, sowel as die burgemeesterskomiteelede vir openbare veiligheid en ingenieursdienste.

“Die eksterne rolspelers sluit in Eskom, Transnet, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, veiligheidsmaatskappye, Metal Recyclers Association of South Africa (MRA), SA Metal, buurtwagte en plaaswagte.”

Esau sê die taakspan besoek skroothandelaars daagliks en gereelde samewerkende misdaadvoorkomingsaksies word deur Operasie Inyoka saam met lede van die polisie uitgevoer.

“Die taakspan werk tans saam met die polisie en veiligheidsrolspelers om kabeldiefstal in Drakenstein hok te slaan en voer daaglikse en weeklikse misdaadvoorkomingoptredes uit. Die doeltreffendheid van die taakspan kan gesien word uit die inhegtenisnemings en die suksesse waar verdagtes betyds betrap word voordat skade aan die infrastruktuur aangerig is.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article