Die Kaapse Forum wil hulself na die Hoogeregshof wend om ’n einde te bring aan Boland Rugby se Grootuitdaag-bekerkompetisie weens omkoopklagte.
Die Kaapse Forum het besluit om gehoor te gee aan die versoek van ontevrede klubs deur regsadvies in te win oor die moontlikheid om die Bolandse Rugbyunie se Top 12-uitspeelrondes van sy Grootuitdaag-bekerkompetisie te staak. Die looitjie vir die uitspeelrondes is op Erfenisdag (24 September) in Wellington gehou.
Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum, sê die burgerregte-organisasie is genader deur klubs wat ontevrede is dat ondersoeke na bewerings van skeidsregter-omkopery nog nie afgehandel is nie. Die omkoopklagte hou verband met bewerings dat sommige skeidsregters glo betalings deur klubs – spesifiek in die Grootuitdaag-beker – ontvang om wedstryduitslae te beïnvloed.
“Een van die klubs het herhaaldelik deur die seisoen aan die Bolandse Rugbyunie sowel as die president, Bennie van Rooi, geskryf,” sê Wyngaard. “Hulle is verseker dat die sake hanteer word en ook, sowat ’n maand gelede, dat die ondersoekpaneel wat deur die unie aangestel is om die omkoopklagte te ondersoek, hulle sou kontak. Dit het egter nog nie gebeur nie.”
Die Kaapse Forum self is voorheen deur ’n prokureursfirma in Kaapstad se noordelike voorstede genader om deel te wees van ’n ondersoek wat die firma namens SA Rugby sou doen. “Toe ons die afgelope week navraag oor die stand van sake gedoen het, is ons brief deur ’n verteenwoordiger van SA Rugby beantwoord. In dié brief is die Kaapse Forum meegedeel dat SA Rugby een van die land se grootste regsfirms, ENSafrica, aangestel het ‘om ’n onafhanklike ondersoek na wedstrydknoeiery-klagte te loods’.”
Volgens Wyngaard word hierdie stap deur SA Rugby verwelkom omdat die Kaapse Forum die eerste was wat aan Mark Alexander, president van SA Rugby, geskryf het en sy reaksie as “lauw” ervaar het. “Ons het nou op skrif die versekering van SA Rugby dat die nasionale beheerliggaam saamstem met Kaapse Forum oor ‘die ernstige aard van die bewerings’ en ENSafrica aangestel het ‘om ’n deeglike, onpartydige proses te lei in ooreenstemming met die toepaslike regs- en regulatoriese raamwerk’.”
Die Kaapse Forum stem egter saam met die ontevrede klubs dat die Top 12-uitspeelrondes nie kan voortgaan terwyl ondersoeke na beweerde omkopery nog aan die gang is nie, en dat skeidsregters uit dieselfde Grootuitdaag-groep nie aangestel kan word om dié wedstryde te lei nie.
“Ons het daarom besluit om regsadvies in te win oor die haalbaarheid van ’n Hoogeregshofaansoek om ’n interdik te bekom vir die tydelike uitstel van die kompetisie totdat die ondersoeke afgehandel is,” sê Wyngaard. “As dit nie gebeur nie, beteken dit dat klubs wat moontlik benadeel is en dus nie vir die Top 12-uitspeelrondes gekwalifiseer het nie, die groot verloorders is.
“Maar ons wil dit baie duidelik stel dat Kaapse Forum nie hierdie opsie ligtelik oorweeg nie omdat ons nie ons gemeenskappe van hul rugbygenot wil ontneem nie. Ons sal dus ’n finale besluit neem nadat alle faktore oorweeg is. Die feit is egter dat, indien daar bewyse van wedstrydknoeiery bestaan, dit ’n klap in die gesig is vir mense wat hul swaarverdiende geld betaal om hekke toe te gaan en saam te reis om hul spanne te ondersteun – net om dan te beleef, soos beweer word, dat die uitslag vooraf deur bruin koevertjies en ‘gratis’ hotelverblyf vir skeidsregters bepaal is.”
Die Kaapse Forum sê dit het ook aan die lig gekom dat klubvoorsitters se steun tydens ’n onlangse spesiale vergadering moontlik op onregmatige wyse verkry is vir ’n “mandaat” aan Bennie van Rooi, president van Boland, dat die kompetisie moet voortgaan en dat hy voortaan slegs met klubs sou kommunikeer. “Om só ’n mandaat van klubs te verkry, moes klubbesture vooraf ingelig word oor die saak waaroor gestem sou word. Hulle wys dan die voorsitter of ’n ander klubverteenwoordiger af om by die vergadering namens die bestuur se besluit ten gunste van of teen die saak te stem,” sê Wyngaard, wat self voorheen voorsitter van Caledon -rugbyklub was en vertroud is met Boland se vergaderingsprosesse.
Hy sê: “Die Kaapse Forum is meegedeel dat wat tydens die vergadering gebeur het, was dat daar kortliks gesels is oor die vraag of die Top 12-kompetisie moet voortgaan en ook oor die ondersoeke na omkopery. Skaars ’n handjievol van die meer as 200 klubvoorsitters het glo deelgeneem aan die gesprek en ander het in privaat gekla, maar geen stemming is gehou nie. Van Rooi het die gespanne atmosfeer geïnterpreteer as ’n aanduiding dat die klubs die kompetisie wil voortsit. Hy het dit só in die vergadering aangekondig. Ek weet egter uit my eie ervaring van die kultuur van vrees en viktimisasie waaraan klubs in Boland onderwerp word, en dat jy nie maklik openlike verset in daardie omstandighede sal kry nie. Die oorlewing van klubs hang dikwels van Boland se goeie gesindheid af.”
Van Rooi het daarna by ’n mediakonferensie aangekondig dat die klubs hom ’n “massiewe mandaat” gegee het om met die kompetisie voort te gaan.
Die Kaapse Forum het by die saak betrokke geraak omdat die organisasie ontwikkelingswerk doen in gemeenskappe waar die Boland-klubs geleë is. Die organisasie het ook op tye skenkings aan die unie en klubs gemaak. “Mense in daardie gemeenskappe belê baie tyd en geld in hul geliefde sport. Hulle gaan op Saterdae veld toe met die verwagting dat wedstryde regverdig deur skeidsregters beoordeel sal word. Wanneer uitslae vooraf bepaal word, word hulle en hul klubs van ’n regverdige uitslag beroof,” sê Wyngaard.
Die Kaapse Forum glo dat die kompetisie nie kan voortgaan terwyl ’n donker wolk daaroor hang nie.



