Die sanger Byron Minnie, wat onlangs sy nuutste enkelsnit, “Tienduisend keer”, uitgereik het, is Vrydag 19 Augustus om 19:00 by die Bôrdienghuis-teater in Wellington op die verhoog.

Byron, wat al twee vollengte albums die lig laat sien het, is dalk nog ’n groentjie in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, maar sy loslitlekker optredes en sy sterk basstem is al net so bekend in die Wes-Kaap soos die Outeniqua-pas en Victoriabaai se branders.

Hy het ook al die verhoog gedeel met bekende sangers soos Jakkie Louw, Francois van Coke en Juan Boucher en staan nie ’n musikale tree vir dié sangers terug nie.

“Tienduisend keer”, een van Byron se eie kreatiewe penpogings, is ’n warm, blitspopliedjie met heerlike borrelgom-en-somerson-lirieke wat luisteraars gewis aan die dans sal kry.

Dié snit is ook die resultaat van sy loopbaan in die kos-en kuierkroegbedryf. Hy werk al ’n hele aantal jare as onder meer bestuurder en geleentheidsorganiseerder by kroeë en kuierrestaurante in die Wes-Kaap, en daarom verstaan hy ook die hart en siel van die vermaakbedryf. Hy weet wat die publiek wil hê en dit is waarom sy musiek so gewild is.

Kaartjies kos R80 en kan by Jeanine by 061 156 5386 bespreek word.

Die deure open reeds om 17:00 en gaste kan dan heerlike pizza en wyn bestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article