Maart is nie net menseregtemaand nie – vandeesmaand is ook ’n toegewyde verbruikersverwante, opvoedkundige en bewusmakingstydperk, soos uitgelig deur die Nasionale Kredietreguleerder (NKR), die Kredietombud en verskeie organisasies.
“Verbruikersregte is volgens die Nasionale Kredietwet ’n wesenlike deel van jou breër menseregte, maar dit is belangrik om te weet waarop jy geregtig is en wat jou verantwoordelikhede is wanneer dit by jou kredietooreenkomste kom. Onthou, net omdat jy ’n sekere verbruikersreg het of daarvan bewus is, beteken nie dat jy dit moet oorbenut nie. As jy byvoorbeeld meer skuld aangaan en jy weet jy kan dit eintlik geensins bekostig nie, plaas jy jouself in ’n moeilike situasie,” sê Wikus Olivier, besturende direkteur by CreditSmart Finansiële Dienste, ’n geregistreerde skuldbestuur- en finansiëlediensteverskaffer.
Hier is ’n paar belangrike verbruikersregte en -verantwoordelikhede om in gedagte te hou rakende kredietverwante verpligtinge.
Watter basiese verbruikersregte het jy?
Jy het die reg om:
. aansoek te doen om krediet; en
. inligting te ontvang in eenvoudige en verstaanbare taal asook in ’n amptelike landstaal (wat jy kan lees en verstaan).
Moenie pen op papier sit as jy nie die inligting (wat aan jou verskaf/gegee is) ten volle begryp of onseker is oor enige van die inhoud, fynskrif of bepalings en voorwaardes nie.
. Jy het ook die reg om in kennis gestel te word wanneer jou kredietaansoek goedgekeur of geweier is, en indien jou aansoek verwerp is, verwittig te word van die rede hoekom jou aansoek onsuksesvol was.
Indien jou kredietaansoek byvoorbeeld afgekeur sou word weens jou kredietprofiel of -telling, kan jy die nodige kontakbesonderhede en inligting van die kredietburo aanvra om ’n dispuut aan te teken. Let wel, die kredietburo het 20 werksdae om jou navraag op te los.
Die openbaarmaking van inligting:
. Moet nooit ’n leë (geen inhoud op ’n dokument) kredietooreenkoms onderteken nie, en voordat jy instem en besluit om ’n kontrak te teken, vra vir ’n voorafooreenkoms (bindend vir vyf werksdae). Hierdie kwotasie moet die bedrag wat geleen word, rentebedrag, depositobedrag (indien nodig), terugbetalingstydperk en enige bykomende kostes aandui, om slegs ’n paar uit te lig.
“ ’n Voorafkwotasie kan jou help om beter rentekoerse te kry of kwotasies te vergelyk en rond te kyk vir beter geleenthede. Suid-Afrikaanse verbruikers is al te dankbaar om die eerste aanbod te gryp wat hulle kan kry, terwyl hulle heel moontlik ’n beter prys van ’n ander geregistreerde verskaffer kon ontvang het,” sê Olivier.
Die vertroulike behandeling van jou persoonlike inligting:
. Kredietverskaffers moet kliëntinligting wat gehou word, vertroulik hanteer en kan slegs jou inligting gebruik vir die doel waarvoor dit gegee is.
. Kliënte moet volgens wet elke jaar ’n gratis kredietverslag via ’n geregistreerde kredietburo verkry. Bykomende kopieë kan teen ’n koste bekom word. Verkeerde inligting kan aangespreek word, wanneer nodig.
VeriCred (VCCB), TransUnion, Consumer Profile Bureau (CPB), Xpert Decision Systems (XDS; via die Splendi-platform) of Experian is onder andere betroubare “primêre kredietburo’s”.
Sê nee vir roekelose geldleenpraktyke:
Kredietverskaffers moet by behoorlike riglyne vir bekostigbaarheidsbeoordeling hou ten tyde van jou kredietaansoek.. Onderhandel met jou kredietverskaffers wanneer jy sukkel om tred te hou met jou betalings, of soek professionele bystand en doen aansoek vir die NKR-aanbevole program, genaamd skuldberading/-hersiening.. Kommunikasie is uiters belangrik wanneer dit by jou krediteure kom. Wees proaktief en uiter jou verandering in omstandighede. Jy weet nooit wat ’n kredietverskaffer sal doen om jou as kliënt te help of te behou nie.. As jy jou skuld-tot-inkomsteverhouding bereken het en dit weerspieël ’n rooi vlag van oorverskuldigheid, kan skuldberading as ’n potensiële skuldverligtingsmaatreël en -oplossing beskou word.
Let wel: jy kan redes aanvra indien jou skuldberadingaansoek afgekeur word.
Vra vir ’n volledige onthulling van die proses en skriftelike bekendstelling van die gelde wat voor jou aansoek van toepassing was.. En ten laaste – jy behoort maandelikse state van jou skuldberader of betalingsverspreidingsagentskap (PDA) gedurende die proses te ontvang.
Hoewel jy regte met betrekking tot kredietooreenkomste het, is daar belangrike verantwoordelikhede wat jy as kredietaktiewe verbruiker ook in die proses moet nakom:
. Maak slegs gebruik van kredietverskaffers (of indien jy oorverskuldigheid ervaar, skuldberaders) wat by die NKR geregistreer is. Moet nooit jou bankkaart, identiteitsdokument of bank-PIN-nommer by kredietverskaffers los nie.. Verseker ’n volledige en eerlike finansiële openbaarmaking wanneer jy om nuwe krediet aansoek doen. Wees eerlik met jouself en doen ekstra huiswerk om seker te maak dat jy wel ’n nuwe finansiële verpligting kan bekostig.
. Kom maandelikse betalings na soos ooreengekom. Betaal elke maand jou balans ten volle, vermy onnodige skuld en gebruik krediet verstandig om ’n positiewe kredietgeskiedenis op te bou.
. Wanneer jy besef jy sal nie jou maandelikse verpligtinge kan nakom nie, kontak jou kredietverskaffer om onmiddellik te probeer onderhandel om betalings te “herreël”.
. Wanneer skuldberading as ’n skuldverligtingsmaatreël oorweeg word, onthou dat jy steeds aanspreeklik is om jou skuld te betaal. Dit is nie ’n kitsoplossing of ’n skuldkansellasieproses nie.
Kommunikeer gereeld met jou skuldberader en hou by jou nuwe herstruktureerde betalingsplan (soos goedgekeur en volgens die hofbevel uiteengesit).
“Bemagtig jouself deur jou verbruikersregte te verstaan en maak ook seker dat jy jou kredietooreenkoms-verantwoordelikhede nakom vir ’n veilige finansiële toekoms,” sê Olivier.




