Met die wêreld wat so vinnig verander, kan vandag se ouers nie anders nie as om met ander oë te kyk hoe hulle hul kinders grootmaak.
Destyds het ouma en oupa na die kleintjies gekyk totdat hulle gereed was om met skool te begin.
Deesdae het jou kind ’n rapport van toe hy of sy maar net vier jaar oud was, nodig om aansoek vir gr. R te doen. En, ja, die dae van jou kind op die eerste skooldag skool toe neem waar julle hom of haar wil laat leer en daar en dan inskryf, is ongelukkig ook lankal verby.
’n Aanlyn stelsel word nou gebruik waarop ouers moet aansoek doen en dan boonop hoop hul kind word by een van die voorkeur-skole wat jy as ouer op die aansoekvorm lys, geplaas.
’n Goeie voorskool of speelskool is deesdae baie belangrik vir ’n kind se ontwikkeling – nie net omdat hy of sy speel-speel leer nie, maar omdat interaksie met ander kinders ook ’n groot rol in hul ontwikkeling speel.
Baie ouers is ook ongelukkig nie so bevoorreg om tuis na hul kinders om te sien en self te sorg dat hul kind skoolgereed is nie.
Met my eersteling het ek en my man nie eens besef hoewel ons ons seuntjie die basiese kleure, vorms en om tot by 10 te tel, geleer en oulike liedjies leer sing het, was daar soveel meer wat ek toe as eerste mamma nie geweet het nie.
My seuntjie het daardie jaar vier geword toe hy vir die eerste keer na ’n speelskool gaan, en omdat ons reeds die vorige jaar aansoek gedoen het, het ons daardie Desember die lys van benodigdhede ontvang en met skok besef ons het hom nog nie aan legkaarte blootgestel nie. Daardie Desember-vakansie het ons verwoed met tweestuk-legkaarte begin, en later drie, vier en vyf stukke, totdat hy die aantal kon baasraak wat hy by die speelskool vir die eerste kwartaal benodig het.
Sensoriese vaardighede was ook iets wat glad nie by my opgeduik het nie, en – om eerlik te wees – is dit nie altyd so maklik om jou kleintjie te laat sit en papier opskeur of met die vingers te verf nie. Ouers is dikwels moeg ná werk en sien nie kans om weer skoon te maak nie, en naweke is in ’n oogwink verby.
Nog iets wat ek ontdek het, is dat die kleintjies al vroeg aan sport, gimnastiek en ander aktiwiteite blootgestel word, en lyk die klein meisietjies nie te kostelik in hul ballet-tutu’s nie! Al hierdie oulike aktiwiteite kan sekerlik ook privaat bygewoon word en elke ouer doen maar die beste vir hul bloedjie.
En ja, party ouers bestee dalk hul tyd 10 keer beter as ek, maar een ding wat ouerskap my geleer het, is dat dit oukei is om hulp te vra en nie als self te wil doen nie. Dis oukei om nie soos die ma op Facebook of Instagram te wees nie wat pragtige foto’s van al die aktiwiteite plaas wat sy met haar kleintjie gedoen het, en sy het nog die huis skoongemaak, gewerk en ’n gesonde aandete voorberei. Ek wonder hoe ons ouers dit gedoen het.
Ek is nie ’n perfekte mamma nie. Ek het baie hulp – van my man, ouers, ’n goeie speelskool en plaaslike restaurante sodat ek soms ’n wegneemete kan koop.
Ons as ouers moet doen wat vir ons gesin werk, maar dit kan ongelukkig nie oorgesien word dat die wêreld teen ’n geweldige spoed verander nie. Tegnologie is oral, ook in ons skole, ons sal ons kinders ’n onreg aandoen as ons hulle nie aan so veel as wat ons kan en so veel ons kan bekostig blootstel sodat wanneer hulle die dag met groot skool begin, hulle nie jare agter hul maatjies is nie. En nee, dit moet ook nooit ’n kompetisie vir hulle word nie; dit moet bloot wees om jou kind bloot te stel aan als wat in daardie klein brein gaan ontwikkel en hulle te ondersteun om hul grootste potensiaal te bereik.
Ek is veral dol oor die gesegde “Don’t compare your child to others. There is no comparison between the sun and the moon. They shine when it’s their time.”




