Die jeug van vandag is die steunpilare van môre se samelewing. Dit is iets waarvan ons almal goed bewus is.
Dus voel ek ons moet ’n ander benadering probeer in die manier hoe ons die toekomstige leiers wil inspireer en ’n goeie impak op hul lewe maak. Jongmense, diegene in hul tienerjare en jonger kinders verdien net soveel respek as ouer mense. Ek het dit al baie opgemerk dat grootmense soms vinnig daarop uit is om respek te eis van die jeug, maar dit is te moeilik vir hulle om respek terug te toon.
Wanneer ons met ’n jongmens praat, beskou ons hulle dalk as iemand wat gelyk is aan ons, in plaas van iemand jonger, aan wie ons ons siening oor sekere goed wil afsmeer. Laat ons die kinders ’n kans gee om hul eie sienings te skep en hul eie stem te vorm. ’n Belangrike rol wat ons kan vervul, is om perspektief te bied.
Ook, verwag ons nie te veel van die jeug nie? – veral in ’n stadium in hul lewe waar hulle nog self sin probeer maak oor wie hulle is, hul belangstellings, groepsdruk ensovoorts, en dan is daar nog hormonale veranderings ook.
Wanneer te veel druk op jongmense geplaas word oor hul besluite en hoe hulle oor sekere goed voel, begin hulle in ’n hoekie wegskram. Gee hulle die geleentheid om ’n besluit te neem sonder om hulle daaroor te oordeel of met hulle te raas. Dit laat jongmense besef hulle kan dan vrylik met ouer mense gesels. En is dit nie wat ons wil hê nie?
’n Gevloek om dissipline by ’n jongmens in te boor, is ook glad nie ’n wyse plan nie. Dit wek net gevoelens van woede en wrokke.
Tye het verander, en verandering sal daar altyd wees. Niemand sê dit is maklik nie, maar grootmense moet ten minste ’n bietjie plek maak vir verandering. Miskien dan sal jongmense ook binne hulself plek maak om raad vrylik te vra en te aanvaar.
Daar is ’n wêreldse verskil in die manier hoe dinge destyds gedoen is en hoe dit vandag gedoen word. Dit wil ook nie sê dat die ou manier verkeerd is en die nuwe manier reg is nie, en vice versa. Wat ek probeer sê is dat die jonger en ouer garde plek moet maak vir mekaar en ook mekaar se gevoelens in ag neem. Niemand se gevoelens moet afgemaak word as niks nie.
’n Nuwe benadering teenoor jongmense beteken ook ’n nuwe benadering oor hoe jongmense ouer mense benader. Êrens moet die twee verskillende ouderdomsgroepe mekaar in die middel ontmoet.
Sensitiwiteit is baie belangrik, maar nie alles wat vir jou gesê word, is ’n aanval nie. Dit geld veral vir jongmense. Jou liggaam gaan deur baie veranderings – baie wat ek nie eens kan beskryf nie. Onthou, nie alles wat teenoor jou geuiter word, is ’n aanval nie. Kritiek is nie altyd ’n slegte ding nie, en mense gaan nie altyd vir jou goed sê waarvan jy hou nie. Moenie te vinnig wees om te reageer nie. Deurdink eers wat met jou gedeel is en hoe jy voel, en besluit eers dan jy hoe jy wil reageer. As jy die kritiek as hulpvaardig vind, aanvaar die hulp waar nodig en moenie te trots wees daaroor nie.
Ek het tot die gevolgtrekking gekom – en dis veilig om te sê – dat daar nie juis een benadering is om ’n goeie impak op jongmense te maak nie. Ek het wel besef om alleenlik vir die jeug die kans te gee om ’n stem te hê, is reeds ’n goeie impak.
Dit is wat ons wil hê – ons wil hul stemme hoor.



