Die kunswerke van drie leerders – onderskeidelik van Paarl en Wellington – is omgeskep in ’n verskeidenheid serpe wat reeds in verskeie L’Occitane-boetieks oor die land heen en aanlyn te koop is.

Raquel Dreyer van die Laer Meisieskool La Rochelle, Leschen Philander van Klein Nederburg Sekondêr en Tamson Mathinessen van Wellington Sekondêr het in April aan ’n kunswerksessie deelgeneem.

Die werksessie is deur Visionbox Foundation, Carol Bouwer Bags en L’Occitane Suid-Afrika aangebied.

Volgens Toni Grobbler, bedryfsbestuurder van die Visionbox-takke in Mbekweni en Paarl, het altesaam 36 kinders aan die kunswerksessie, wat in Mbekweni plaasgevind het, deelgeneem.

Die meisies is onlangs as die wenners aangewys, met Raquel (6) wat die eerste plek gewen het, Leschen (16) die tweede plek en Tamson (16) die derde plek.

“Alle opbrengste uit die verkoop van hierdie serpe sal geskenk word aan ons twee inisiatiewe wat op die versorging van sig en biodiversiteit gefokus is,” voeg Grobbler by.

Raquel, wat R5 000 gewen het, is baie trots op die kunswerk wat sy gelewer het. “Ek voel gelukkig en ek is baie trots op myself. Ek gaan my geld spaar en lekker goedjies vir my koop om mee te speel, soos speelgoed. Ek hou van my kunsprent omdat dit baie mooi is en ek hou van die kleure wat ek gekies het. En ek hou ook van wat ek met al die kleure op my doek gedoen het.”

Leschen sê op haar beurt sy voel baie goed dat sy in die tweede plek geëindig het, alhoewel sy dit glad nie verwag het nie. “Ek het nie verwag om tweede te eindig nie. En ek was ook verbaas, want ek is nie eintlik kunstig nie, maar nou weet ek ook waar my talente lê.”

Sy het R2 500 prysgeld vir haar kunswerk ontvang, en volgens Leschen het sy dit gebruik om haarself te bederf.

“Ek het die geld op myself bestee en inkopies gedoen.”

Hoewel sy self verbaas is oor haar talente, voel Leschen sy sal probeer om haar kuns en kunstalente meer uit te leef.

Tamson voeg by sy kan nie beskryf hoe bly sy is dat haar kunswerk een van die wenners is nie.

Sy vertel op die dag van die werksessie het sy net gegaan om haar bril te gaan haal en was glad nie bewus van die kompetisie nie.

Aangesien Tamson ’n groot liefde vir kuns het, het sy sommer daardie dag besluit om by die werksessie aan te sluit. Tamson sê sy het vir haar ’n slimfoon met haar R1 500-prysgeld gekoop. “My kunswerk getuig van hoe jy jouself kan uitleef – emosies veral. Kuns leef in wat jy voel, dink en sien. Jy kan selfs ’n storie in jou kunswerk vertel.”

Grobbler sê Visionbox het ’n groot rol gespeel in die transformasie van optometrie binne die Kaapse Wynland-gemeenskap. “Ons glo goeie visie is ’n basiese mensereg en tog is dit vir ’n bevoorregte paar. Vir die meeste van die Suid-Afrikaanse bevolking is oogsorg en ’n bril net te duur.

“Deur koste en bo-koste te verminder, en vertikaal te begin integreer, het ons daarin geslaag om ons pryse te laat daal tot ’n punt waar ons topgehalte-oogsorg aan meer mense kan bied.”

Grobler sê die heldergeel skeepsvraghouer is ’n “simbool van hoop in Mbekweni, Paarl, en ’n spilpunt vir die meeste van ons grondslagwerk deur gratis oogtoetse aan te bied”.

Diegene wat belangstel kan die webwerf https://za.loccitane.com/collections/commitment-scarf-wraps besoek om die wenners se serpe te bestel.

. The artworks of three learners, from Paarl and Wellington respectively, have been transformed into a variety of scarves that are already on sale in various L’Occitane boutiques across the country and online. The winners are Raquel Dreyer from La Rochelle Girls’ Primary School, Leschen Philander from Klein Nederburg Secondary and Tamson Mathinessen from Wellington Secondary.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article