Dit is geen geheim dat die werkloosheidsyfer in ons land verskriklik hoog is nie, en hoewel geleenthede tog bestaan, weet nie almal altyd hoe om hulself daarvoor te bemark nie.
Emilicia Barends (23) van Groenheuwel in Paarl-Oos is een van baie wat nie ná skool die geld gehad het om verder te studeer nie, maar vandag help sy ander om die onsekere wêreld van die werksmag aan te pak.
“Ek het in 2018 gaan werk omdat my ma nie geld gehad het om vir studies te betaal nie. Ek het om beurse aansoek gedoen, maar was nie suksesvol nie. ’n Vriend van my het in 2017 wyn en toerisme deur die Pinotage Youth Development Academy (PYDA) studeer en het my basies aan wyn voorgestel – wel, nie dat wyn daai tyd enigsins vir my sin gemaak het nie.”
Barends vertel hoewel sy nie geweet het waarvoor sy haarself inlaat nie, het sy in 2018 by PYDA aansoek gedoen om wyn en toerisme te studeer.
“Dit was ’n 11 maande lange kursus vir werkgereedheid, en ek was een van die topstudente in die klas vir 2019. Nadat ek in November 2019 gegradueer het, het ek my internskap gedoen. Ná my jaar van internskap het PYDA my ’n kontrak vir ’n jaar as jeugmentor aangebied.”
Sy sê haar werk as jeugmentor by PYDA was om studente daagliks met alles te help en te ondersteun, en sy het hier reeds besluit om haar passie om mense te help om werk te kry, verder uit te brei.
“Ek het die gaping gesien van gegradueerdes wat werkloos is en ook studente wat werk soek vir wanneer hulle gradueer. Ek het besef dit is nie maklik nie. Intussen het ek self werk gesoek, want ek het geweet my kontrak as jeugmentor eindig binnekort en ek wou regtig ook deel van die wynbedryf en tussen mense wees.”
Barends het verlede jaar in haar vrye tyd begin werk soek vir studente – ’n diens wat sy gratis aanbied. Sy help ook met die opstel van CV’s en dekbriewe asook hoe om die e-pos te stuur wat jou CV’s vir die werkaansoek vergesel.
“Ek self is nie ’n kundige nie, maar ek probeer my bes. Gelukkig was dit een van die kurrikulums wat PYDA gedek het, plus twee keer prakties, wat die student ’n geleentheid gee om ondervinding op te bou.”
Sy meen egter om ondervinding op te bou, is die grootste uitdaging vir studente wat hul studies voltooi het.
“Ek het op my eie al meer as 20 studente gehelp, en die res het ek deur PYDA gehelp, wat saam met organisasies in die verskillende bedrywe werk. Nie almal was suksesvol in hul onderhoude nie, maar dit was ’n stap in die regte rigting en ook ’n geleentheid om te leer hoe ’n onderhoud gevoer word,” sê sy.
“Almal moet iewers begin, en op die oomblik wil ek regtig net sien dat meer en meer jeugdiges kry werk. Geen geld in die wêreld sal die gevoel kan klop om te hoor iemand wat ek gehelp het, of iemand wat al lank werk soek, het werk gekry nie. Vir my is dit baie meer as geld werd.”
Hoewel sy tans voltyds by Painted Wolf Wines in Simondium werk, is sy steeds in kontak met die akademie.
“Die akademie se aansoeke word elke paar maande geopen en benadeelde Suid-Afrikaners tussen 18 en 25 jaar oud kan dan aansoek doen. ’n Matriek-kwalifikasie is ’n vereiste.”
Volgens Barends kan mense vir drie kursusse by PYDA aansoek doen, en voornemende studente woon inligtingsessies by om te bepaal of hulle vir die program geskik is of nie.
Barends sê met die ervaring wat sy tot dusver ná skool opgedoen het, is sy van mening dit behoort verpligtend te wees vir leerders om op skoolvlak reeds te leer hoe om hulself vir werk en die “grootmenswêreld” gereed te kry.
“Daar is só baie moontlikhede ná skool en so baie ander wêrelde open vir jongmense, maar partykeer het jy niemand om jou hand vas te hou en jou in die regte rigting te lei nie.
“Ek besef werk is skaars, maar ek weet ook dat werk wel buite beskikbaar is.”
Enigiemand wat Barends se passie deel om jongmense te help werkgereed maak, kan haar by 061 100 1347 bel of ’n e-pos-boodskap na emiliciabarends@gmail.com stuur.





