Toe Adel Stander ná die geboorte van haar seuntjie in 2017 sukkel om werk te kry, was sy genoodsaak om uit die boks te dink om die finansiële druk op hul huishouding te verminder.
Stander het begin groente en vrugte plant en vandag spog sy met ’n groot verskeidenheid varsprodukte waaronder ook verskeie speserye om van te kies en te keur.
Stander se liefde om te plant het reeds in 2005 begin toe sy haar eie cabernet-wingerdstokke in hul tuin geplant het en in 2019 het haar passie vir tuinmaak behoorlik ontpop.
“Ek het probeer om die koste van kos maak vir die huishouding te verminder en het toe besluit om myself te leer tuin maak,” vertel sy.
Sy verduidelik dat sy sowat 200 m² van hul erf in Suider-Paarl wat hulle nie gebruik nie, gebruik om op te plant. Hulle het onlangs ook ’n byekorf op hul erf aangebring en hoop dat ’n koningin-by binnekort hul korf haar tuiste sal maak.
“Ons het tans verskeie groentesoorte, wat seisoenaal verander. Ons het verskeie vrugtebome, en ons het ’n wingerd met 20 verskillende variëteite (wyndruiwe).”
Stander praat met groot passie oor alles wat sy geplant het en sy verduidelik ook hoekom sekere plante op ’n sekere plek geplant is. Sy is opgewonde oor ’n by wat sy verskyning by een van die blommetjies maak en vertel hoe die voëltjies die insekte van haar plante weghou.
Van haar sade kom selfs van oorsee en sy het ’n groot netwerk van vriende en tuinmakers van wie sy sade kry en ook aan hulle gee.
“Ek eksperimenteer graag en kyk maar hoe iets groei in ’n sekere gebied en ook in hierdie klimaat van ons.”
In haar tuin volg sy Charles Dowding se “geen grawe”- organiese groeiproses.
“Die ‘geen grawe’-tuinmaakmetode raai aan dat die grond sover moontlik nie omgespit word nie. Met hierdie proses het jy minder onkruid in die tuin en meer voordelige mikro-organismes in jou grond,” verduidelik sy.
“Organiese tuinmaak is baie beslis meer uitdagend, maar as jy die konsep verstaan, is dit regtig baie maklik en ook beter vir die natuur en jou gesin. As my seuntjie wortels uit die grond trek en eet kan ek gerus wees dat dit veilig is om te eet omdat daar nie gifstowwe op die groente en vrugte is nie.”
Sy verduidelik om organies te praktiseer, beteken dat jy die natuur gebruik om peste te beheer, met die hulp van sekere lokplante en voordelige insekte, en as jy moet spuit, gebruik jy natuurlike produkte wat nou meer beskikbaar is in die winkels as voorheen.
“Om die vaardigheid aan te leer van jou eie kos groei, is noodsaaklik, veral in vandag se lewe waarin die meeste mense vergeet het waar kos eintlik vandaan kom. Organiese groente is ook smaakliker en het meer voedingswaarde as kommersiële groente en vrugte.”
Volgens Stander is haar vyfjarige seuntjie ook gereeld in die tuin om sy ma te help plant.
“Hy verleen sy hulp as ek nuwe saailinge plant, en soos hy ouer raak, sal ek hom aanmaan om meer betrokke te raak. Ons wil graag hê hy moet verstaan waar kos vandaan kom, en hy moet ook die basiese kuns van jou eie kos groei verstaan en waardeer en Moeder Natuur geniet.
“Hoewel my groentetuin as ’n ekstra groente- en vrugte-inspuiting in die huis begin is, het dit ’n leerskool en ontspanningskuns vir my en my gesin geword. Dis is verskriklik lekker om vars groente en vrugte te pluk en sommer so uit die grond of van die boom af te eet. Ek hou ook daarvan om vreemde variëteite en skaars sade te plant en uit te toets of dit wel gaan groei en hoe dit smaak.
Stander en haar man maak ook hul eie kompos van daaglikse groen afval.
Hulle het ’n kompos-gebied sowel as komposhouers en die kompos wat hulle maak word in die tuin teruggewerk.
“Ek laat ook soms toe dat van die plante blom sodat ek kan saad opvang. Dan hoef ek nie weer van die saad te koop nie. As ek wel saad moet koop, koop ek dit net by sekere aanlyn plekke waar ek weet dat daar geen chemiese stowwe gebruik is nie. Ek kyk ook of die sade non-GMO sade of organiese sade is.”
Stander, wat tans ’n vaste werk het, vertel dat tuinmaak vir haar baie terapeuties is en ook ’n goeie spanning-afleier.
“Ek het die tuin só uiteengesit dat dit nie so baie van my tyd in beslag neem nie. Daar is heelwat minder werk in die tuin omdat daar nie baie onkruid is nie en ek doen ook opeenvolgend beplanting, wat ook baie tyd spaar.”
Stander vertel sy het ’n paar jaar gelede wyn begin studeer en sy skryf vanjaar haar finale vak om haar diploma in wyn te kry.
“Intussen het ek besluit dat ek graag meer wil leer oor wingerdboukunde, maar ek kon nie voltyds by Elsenburg of die Universiteit Stellenbosch studeer nie. Ek het besluit om my eie wingerd te plant met verskillende variëteite en dit sodoende as my leermodel te gebruik. Ek praktiseer ook organies wanneer dit kom by die wingerd en ek snoei dit ook met ’n bosstok-metode. Met verskillende variëteite kan ek leer wat ons klimaat en die verskeie wingerdpes-probleme aan my wingerd doen.”
Sy sê sy het al voorheen, toe sy op ’n wynplaas gewerk het, haar eie wyn gemaak en dat sy beplan om in 2023 wyn van haar eie wingerd te maak.
Maar dit is nie hier waar Stander gaan stop nie, sy sê sy is ook van plan om eendag haar eie whiskey te maak.





