Die 18-jarige Jana Lutzeler van Wellington het vroeër vanjaar in ’n kunskompetisie ’n beurs losgeslaan om verder kuns te studeer, maar sy het eerder verkies om op haar eie tyd haar kunskennis verder te vergroot.
“Dit was ’n kunskompetisie waaraan die top-kunsleerders van skole reg oor die Wes-Kaap deelgeneem het. Ek het algeheel tweede geëindig en dit was ’n R50 000-beurs. Ek het besluit om nee te sê daarvoor, want daar was nie ’n kursus beskikbaar waarvan ek hou nie.”
Die kompetisie waaraan Jana deelgeneem het, is aangebied deur Cape Town Creative Academy en staan bekend as die CT Creative Academy’s Face of Design Art Exhibition. Sy was deel van 22 matrikulante wat deelgeneem het. Volgens Jana is die matrikulante se eindeksamenprojekte ingeskryf. Die beurs wat aan haar toegeken is, was om verder te studeer by die einste akademie.
“Ek het besluit ek gaan ’n gap-jaar neem, want ek wil my kunsportefeulje bywerk en soveel kuns moontlik doen voordat ek begin verder studeer.”
Jana vertel dat sy begin het as ’n skilderkunstenaar toe sy nog heelwat jonger was, maar toe sy haar hoërskoolloopbaan by die Hoër Meisieskool Paarl begin, het sy gesien daar is verskillende weë in die kunste wat sy kan verken.
“Ek was so geïnspireer deur die juweliers op skool dat ek verder in daardie rigting wil studeer.
“Ek doen nou op die oomblik aansoek by ’n paar plekke wat juwelierskursusse aanbied.”
Sy voeg by dat haar kuns inspirasie put uit die natuur.
“Die natuur is net vir my baie mooi – die blomme en die kleure. Ek hou nogal daarvan om kleurvolle goed te bring in my kuns. Ek verf baie fynbos-skilderye op die oomblik.”
Volgens Jana wil sy graag in die toekoms oorsee gaan en haar kuns met die res van die wêreld deel. Terwyl sy tans besig is om haar kunsportefeulje op te bou, sê Jana dat sy nie enige vaste planne het om binnekort ’n uitstalling van al haar werk te hou nie.
Jana sê verder diegene wat aangetrokke is tot kuns, maar nie weet hoe om te begin nie, moet net daardie eerste stap neem en net begin.
“Jy moet maar net besluit waarvan hou jy en net begin.”
Haar kunswerke deel sy graag op Instagram onder haar profiel @janalutzelerart. Sy sê mense kan met graagte kyk na dit wat sy tot dusver geskep het.
. In an art competition earlier this year the 18-year-old Jana Lutzeler from Wellington won a scholarship to further her art studies, but she instead chose to continue broadening her art skills on her own.





