Sebastian Sonnekus (15) neem aan ‘n kompetisie deel. Foto: Verskaf

Een van Wellington se vooraanstaande karatekas, Sebastian Sonnekus (15), pak binnekort ‘n uitmergelende uitdaging aan wat insluit om 100 katas baas te raak as ‘n fondsinsamelingsprojek om die Japannese eiland genaamd Okinawa te besoek waar hy karate-opleiding gaan ontvang.

Sebastian sal hiérdie uitdaging op 27 Maart by FitLife Wellington aandurf en nooi die Drakenstein-gemeenskap uit om voor skool óf werk ‘n draai te maak, en ‘n paar katas saam te doen.

Ander studente van die Boland Dragons-dojo waar Sebastian opleiding ontvang, sal deur die loop van die oggend ook by hom aansluit.

Regstreekse opdaterings gaan ook op sosiale media gedeel word.

Donasies kan op die dag aan Sebastian oorhandig word, of kan inbetaal word op Sebastian se Back-A-Buddy-veldtog.

Volgens Elizna Sonnekus, Sebastian se ma, sal daar ook koffie en pannekoek te koop wees.

Katas

‘n Kata in karate is ‘n vasgestelde reeks bewegings wat ‘n denkbeeldige geveg teen een of meer teenstanders voorstel. Dit is soos ‘n oefenpatroon of “gimnastiekroetine” wat jy alleen uitvoer om tegnieke te oefen.

“Elke beweging het ‘n doel,” volgens Sebastian.

Dit bestaan uit skoppe, houe, en draaie wat in ‘n spesifieke volgorde uitgevoer word.

Sebastian Sonnkeus (15) konsentreer terwyl hy ‘n Kata uitvoer. Foto: Verskaf

Volgens Sebastian sal 100 katas hom ongeveer drie tot vier ure neem en beoog hy om van 05:30 met die katas te begin.

Tans ken Sebastian 25 katas wat dus vier keer uitgevoer sal word.

Okinawa

Okinawa, ‘n eiland in suidelike Japan, word algemeen beskou as die geboorteplek van karate en Sebastian gaan saam met sy sensei, JP van Heerden, eienaar van die Boland Dragons-karateskool, asook sy ma dié eiland besoek om meer oor karate te leer – nie net as vegkuns nie, maar ook die geskiedenis daarvan en om die kultuur op die eiland te ervaar.

‘n Ander groep studente van oor die wêreld heen sal ook by Sebastian en Van Heerden aansluit waar hulle opleiding by ‘n karateskool sal ontvang.

Hiérdie geleentheid vind in Julie vanjaar plaas.

Finansiering

Elizna het verduidelik dat die gesin ‘n lening moes aangaan om vir die geleentheid in Okinawa te betaal, waarna hulle nou, met Sebastian aan die voortou, probeer om die geld te herwin.

Buiten Sebastian se kata-uitdaging maak hy ook energiestafies, gee ekstra karateklasse én maak sakke vir die wapens waarmee die karatekas veg.

Sebastian het gesê dit is vir hom bewonderenswaardig om te sien watter opofferings sy ouers maak sodat hy sy drome kan nastreef.

Sy trotse ma het op haar beurt verduidelik dat sy en Sebastian se pa, Stefan Sonnekus – ‘n kameraman en fotograaf wat deel vorm van die bekende Voetspore-span – hul seun se droom sal ondersteun, mits hy sy entoesiasme daarvoor behou.

Karate-loopbaan

Dié bobaas vegter het verduidelik dat hy reeds sedert ‘n jong ouderdom op kleuterskool ‘n liefde vir karate ontwikkel het toe sy huidige sensei die skooltjie besoek het.

LEES: Drakenstein-karatekas presteer uitstekend

Van daar af het hy aan verskeie kompetisies deelgeneem, waarvan een die World Union of Karate Do Federations (WUKF)-wêreldkampioenskap verlede jaar in Swede was.

Hier het Sebastian een goue en een silwermedjale verower in onderskeidelik die kata-afdeling in die groep vir 14- tot 15-jariges, en in kobudo met ‘n kort wapen, die sai (‘n soort vurk).

Elizna het verduidelik vanjaar se wêreldkampioenskap vind in Mei in Roemenië plaas, maar dit is nog onduidelik of Sebastian dit sal bywoon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article