Daar heers groot kommer by ’n plaaslike organisasie nadat dit onder hul aandag gekom het dat sommige ouers glo hul kinders uit die skool hou sodat die kleintjies by winkelsentrums en verkeersligte in die Paarl kan staan en bedel.

Bianca Petersen, kommunikasiebestuur­der van Khula Development Group (KDG), sê hulle het ná die heropening van skole vanjaar hiervan bewus geraak.

Khula Development Group is ’n plaaslike organisasie sonder winsbejag wie se missie dit is om skoolbywoning te bevorder en te verhoed dat laerskoolleerders voortydig die skool verlaat.

“Daar is ’n drastiese toename in bedelary in die strate van Paarl. Ouers met hul kinders en ook kinders op hul eie,” sê Petersen.

Volgens Carien van Zyl, hoof-maatskaplike werker van KDG, gebruik ouers dikwels hul eie kinders om saam met hulle op die strate te bedel om simpatie by die publiek te wek.

“Hulle (die kinders) mis skool en die geleentheid om te ontwikkel en hul volle potensiaal te bereik.

“Om heeldag op straat te wees is nie die beste omgewing vir kinders nie. Dit leer hulle dat bedel ’n aanvaarbare manier is om te oorleef.”

Petersen verduidelik daar is verskeie redes waarom kinders skool verlaat. Dit sluit in maatskaplike kwessies soos werkloosheid, gesinsgeweld, kindermishandeling en nog meer.

“Wanneer mense vir kinders wat bedel kos of geld gee, motiveer dit kinders om terug te keer strate toe, eerder as om terug te gaan skool toe. Hierdie kinders is kwesbaar omdat hulle blootgestel word aan uitbuitery, middelmisbruik, misdaad ens.,” voeg Petersen by.

“Daar is talle plekke waar mense daagliks in die Paarl bedel. Die verkeerslig tussen Tiger Wheel & Tire en McDonalds in Jan van Riebeeck Rylaan word deesdae beman deur kinders en volwassenes wat van voertuig tot voertuig stap en bedel.

“Dit is ’n veiligheidsrisiko, nie net vir misdaad nie, maar tog vir verkeer ook.”

Nog plekke waar kinders staan en bedel, is onder meer by die Checkers Van der Lingen Plein, Centre Point in Klein Drakensteinweg en KFC in Paarl se Hoofstraat.

Petersen sê die publiek kan gevalle van bedelary aanmeld by die Drakenstein-munisipaliteit se wetstoepassingseenheid by 021 807 6353 of 021 807 6472.

“Wetstoepassing sal uitkom om inspeksie te doen en self kontak maak met maatskaplike dienste.”

A local organisation became concerned after it came to their attention that some parents were apparently keeping their children out of school so that they could beg at shopping centres and traffic lights in Paarl.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article