Sondagaande vir duisende Pinkster- huishoudings gaan eersdaags nie meer dieselfde wees nie nadat pastoor Jonathan Rubain onlangs aangekondig het hy gaan die gewilde kykNET-gospelmusiekprogram, Koortjies met Jonathan Rubain ná vier jaar as aanbieder verlaat.
Rubain het vandeesweek in ’n videoverklaring gesê hy is dankbaar om deel te kon wees van die “heel eerste Afrikaanse gospelmusiekprogram in Suid-Afrika”.
“Vier jaar en 180 episodes later het die tyd aangebreek vir my om totsiens te sê as die aanbieder van Koortjies.
“Ek het met die produksiespan gepraat en verduidelik ek voel my tyd het aangebreek om te groet. Dit is ’n tyd vir my om ’n bietjie ander dinge te gaan doen waaroor ek baie opgewonde is,” het hy in die video gesê.
Hy sê hy is ook verheug om te kan noem dat die program in Julie sal terugkeer.
“Dit gaan ’n fresh look hê, ’n nuwe feel, ’n nuwe set, ’n nuwe presenter, maar die Koortjies band gaan steeds daar wees. Ek glo die show het die potensiaal om nog groter te raak.”
Rubain sê hy is dankbaar vir almal wat hom Sondae in hul eie huis verwelkom het.
“As ek na jul dorpe, kerke, en konserte toe gekom het, is ek altyd met ope arms verwelkom. Julle het my altyd so goed hanteer en daarvoor is ek vir die Here asook vir julle vir ewig dankbaar.
“Vir kykNET wil ek baie dankie sê. Dankie dat julle geleenthede skep vir mense soos ek. Julle het letterlik my lewe verander.
“Ek is baie opgewonde oor dit wat vir Koortjies in die pyplyn is. Ek gaan steeds een van die program se grootste aanhangers wees. Ek glo die Here gaan nog hierdie program en sy nuwe aanbieder gebruik om steeds daardie belangrike rol in Suid-Afrika te vervul.”
Rubain het in HanoverPark op die Kaapse Vlakte grootgeword.
Hy is in ’n Christelike huishouding grootgemaak – sy pa is ’n pastoor – wat hom uitgeknip gemaak het om die Christelike program aan te bied.
kykNET het in Februarie 2020 aan Koortjies begin skiet en die eerste episode is op 5 April daardie jaar uitgesaai.
Dit het sedertdien gegroei en ’n gunsteling in veral die bruin Pinkster-gemeenskappe geword.
Sondae se 19:00-tydgleuf word intussen vervang met die nuwe seisoen van Sê jou sê.
Die program se nuwe aanbieder sal na verwagting in Mei aangekondig word.
Suzaan Keyter, ’n woordvoerder vir kykNET, het by navraag aan Paarl Post bevestig dat Rubain die tuig neergelê het.
Sy het gesê kykNET het reeds ’n nuwe aanbieder, maar kon nie ’n datum gee vir wanneer hierdie aanbieder se naam bekend gemaak sal word nie.





