Dit is Jeugdag en om by dié dag aan te sluit, deel ek die volgende as bewonderaar van wyle legendariese rugbykommentator Gerhard (Spiekeries) Viviers.
In ’n onderhoud met Spiekeries, ná die Springbokke se 1968-toets teen Frankryk, reageer hy: “Dit was my eerste toer na Frankryk, die Springbokke het gewen, en daar het ek die pragtigste rugby gesien.
“Daai hele toets was ’n weerspieëling van rugby soos hy gespeel moet word, dis spanspel waar die voorspelers die bal gekry het, waar hulle hom beheer het, daai pragtige agterspel en samespel tussen voor- en agterspelers aan beide kante.
“Selfs die Franse het die Springbokke geprys vir sulke pragtige rugby.”
Ook wyle Dok Craven het gesê hy wens elke skoolseun in Suid-Afrika kon die toets teen die Franse gesien het, want dit is hoe rugby werklik gespeel moet word.
Om suksesvol te wees, is die resep vir sukses as volg: Ek moet wil, glo, kennis hê of verkry, oefen en aanpas.
Spiekeries het sy onderhoud afgesluit met: “Want van skolevlak af tot by internasionale rugby moet ons ons kant bring.”



