Die ryk Suid-Afrikaanse en inderdaad Afrika-jazz- tradisie is die strelende fokus van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se soel sonsak-piekniek op Saterdag 19 Februarie, wanneer bekende jazz-sterre hulde bring aan hierdie internasionale musiekstyl wat in die vasteland en haar mense gewortel is.
Chadleigh Gowar se orkes met Zeke le Grange, ’n saksofoon-sensasie, en Jason Ward, meester van die slaginstrumente, beloof om die gehoor op ’n musikale reis te neem terwyl die son agter die ikoniese monument wegsmelt.
Die res van die talentvolle en ervare groep bestaan uit Roderick McKay op die klavier, Lee Ludolph op die kitaar en Damian Kamineth op die tromme.
Die aand se jazz-repertoire sluit ook plaaslike, oorspronklike en Afrikaanse items in, asook dansmusiek wat jou die hele aand op die been sal hou.
Gaste kan vooraf die monument, ’n simboolbelaaide beeldhouwerk sonder weerga, besigtig. Besoekers word ook aangemoedig om die omgewing en tydelike uitstallings te verken; daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders.
Gowar is ’n Gold Standard Bank Ovation-bekroonde kunstenaar van die Nasionale Kunstefees 2021 en baskitaarspeler op kykNET & kie se gewilde Koortjies met Jonathan Rubain. Hy is ook bekend om sy lang musikale verbintenis met die Suid-Afrikaanse gospelgroep Dumisani asook die Kaapse jazzkunstenaar Ramon Alexander.
Le Grange het nie net Suid-Afrika in buitelandse kompetisies verteenwoordig nie, maar saam met baie plaaslike en internasionale kunstenaars opgetree, soos die plaaslike ikone Jonathan Butler, Caiphus Semenya, Letta Mbulu, Hugh Masekela en Judith Sephuma. Ward het al naam vir homself onder die musikale elite en bekendes gemaak deur met onder andere Oliver Mtukudzi, Hugh Masekela, Ernie Smith, John Hassan, Black Coffee en Mi Casa op te tree.
Besoekers is welkom om hul eie piekniekmandjies en drankies (geen glas) te bring of een vooraf by die ATM Koffiehuis via 082 216 2510 of mz@colegson.co.za te bestel – hierdie koffiewinkel sal ook verversings te koop aanbied tydens die geleentheid. Trek warm aan en neem ’n flits asook jou masker saam. Sien www.taalmuseum.co.za/covid-19/ vir die spesifieke protokol.
Toegang is slegs R100 per volwassene en R80 vir pensioenarisse, studente en kinders onder 18, en die vertoning begin om 19:00. Kaartjies is beskikbaar by Computicket en, indien daar nog oor is, by die hek op die dag self van 17:00.
Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441 / 863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook.
Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte.
Die Taalmonument en Taalmuseum is oop vir besoekers. Jaarpermitte kos R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.





