Toe ’n vyfjarige seuntjie van die Paarl begin kla sy arms en bene pyn, het dokters dit ná verskeie ondersoeke as niks afgemaak nie. Klein Jay-Cee Grobbelaar se ouers het hom toe na ’n ander dokter geneem, wat kanker by hom gediagnoseer het.

Die seuntjie het onlangs begin kla sy arms en bene pyn. Sy ouers het hom twee keer na die TC Newman-daghospitaal geneem en dokters het niks fout gevind nie. Met sy tweede besoek aan die daghospitaal is hulle na die Paarl-hospitaal verwys. Daar is X-strale geneem en ’n sonar uitgevoer, maar dokters kon steeds nie agter die kap van die byl kom nie.

Ná sowat ’n week het Jay-Cee steeds pyn ervaar en sy ouers, Decoufle en Julian Grobbelaar, en sy ouma Sally Davids het besluit dit is tyd om die seuntjie na ’n private dokter te neem.

Volgens sy ma het die dokter bloedtoetse laat doen en die skokkende nuus aan die familie oorgedra.

“Sy ouma het hom Donderdag 12 Oktober na dr. Haai toe geneem. Sy het aanbeveel om ’n bloedtoets by Pathcare te laat doen, en die uitslae het die volgende dag (Vrydag 13 Oktober) gekom. Ons is toe in Paarl-hospitaal toe en hulle het ons na Tygerberg verwys.”

Hoewel die bloedtoetse getoon het Jay-Cee het kanker, kon die dokter nie vasstel watter soort kanker dit is nie. Eers toe Jay-Cee by Tygerberg-hospitaal opgeneem is, het die Grobbelaar-ouerpaar gehoor hul kind het akute leukemie. Dit is ’n kanker van die bloed en beenmurg en wat die witbloedselle van die pasiënt raak.

“Dit gaan nou baie beter met hom. Hy kry drie dae per week chemoterapie – Maandae, Woensdae en Vrydae. Hy word by Tygerberg behandel. Ek as ma en sy ouma en pa was baie hartseer en ons is nog. Maar ek het ons pappa Jesus gevra om die vrees weg te neem en my te wys Hy is in beheer van als – dat Jay-Cee daar gaan uitstap asof niks nog ooit fout was nie.”

Julian glo die Here het hierdie stryd vir ’n rede oor hul pad gebring.

Sy sê dit is nie net ’n klop aan haar deur nie, maar ook aan baie ander ouers se deur om oplettend te wees wanneer dit by hul kinders se gesondheid kom.

“Moet dit nooit ligtelik opneem as jou kind sê hy of sy het hier of daar pyn nie.

“Maak maar altyd seker dat hulle hulp kry, so gou as moontlik. Ons as ouers sê sommige kere ‘nee, hou op aansit’, maar ons weet nie wat fout is nie.

“Ouers, pas ons kinders mooi op, asseblief. Ek vra, want ek het nooit gedink ek sal deur so ’n proses moet gaan nie, maar met pappa Jesus aan my sy, wil ek sê die vrees is weg. Hy het sy weg in ons kom maak, want as ons mos hoor van kanker, dan dink ons aan dood. Nee, dit moet nie so wees nie. Ons moet lewe spreek; niks is onmoontlik nie.”

Jay-Cee is steeds in die Tygerberg-hospitaal saam met sy pa, wat dag en nag by hom is. Sy ma gaan kuier gereeld, maar as broodwinner moet sy in die week by die werk wees.

. When a five-year-old boy from Paarl complained about aches in his arms and legs, doctors initially dismissed it as nothing. However, when Jay-Cee Grobbelaar’s parents took him to a different doctor, he was diagnosed with cancer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article