Paarl se water het gewis iets spesiaals daarin! Dit is weer eens bewys met die insluiting van Jamie Lee Brown van Paulus Joubert Sekondêr, wat as lid van die Springbok-vroue-o.20- rugbyspan gekies is.
Jamie, ’n gr. 11-leerder van Bouganvillea-woonstelle in Paarl-Oos, het ná ’n suksesvolle o.18-rugbyweek vir vroue in Welkom die keurders so beïndruk dat sy as 18-jarige goed genoeg geag is om lid van die o.20-vrouegroep te wees.
Jamie, die derde kind van Elma Brown, kom uit ’n sportiewe familie.
Sy neem reeds van jongs af aan ’n verskeidenheid sportsoorte deel en woeker veral as heelagter in die meisies-rugbyspan.
Haar oudste broer, Aldino “Appels” Brown, wat ook haar rugbyheld is, motiveer haar baie, sê sy. Appels was self ’n goeie skolespeler, maar het nie ná skool ’n loopbaan in rugby gevolg nie.
Haar ouer suster, Devine Brown, was ’n skole-Boland-atleet. Sy het ook ’n jonger broer, Jaydin, wat ook by Paulus Joubert is, maar in gr. 8.
“Ja, in my ouerhuis is almal sportmal,” sê Jamie. “My ma, wat ons almal as ’n enkelma grootmaak, was self op haar dag ’n atleet en het ook bietjie vrouerugby gespeel,” se Jamie trots. “So, ja, ons kry maar alles van haar af . . .
Jamie, wat in Nederburg Primer op laerskool was, het haar onderwysers ook trots gemaak.
Andre Kearns, een van die onderwysers by Nederburg, kan nie uitgepraat raak oor Jamie se prestasie nie.
“Ons is baie trots op haar. Sy was hier by ons al so ’n uitblinker in netbal, atletiek en sokker,” sê Kearns.
Athol Ontong sê die hele skool is uiters trots en boonop val haar insluiting in die Springbok-o.20-vrouespan in dieselfde tyd as nog ’n oud-leerder van die skool, Kurtlee Arendse, wat sy buiging vir die Springbokke in Bloemfontein gemaak het.
Jamie se sporttalent strek nog verder en sy speel ook vir Boland vrouekrieket en is lid van dié o.19-span. Sy neem ook deel aan atletiek, sokker, vlugbal en basketbal, wat haar deur die jaar baie besig hou.
Sy is ook vroeër die jaar as speler van die toernooi by Klein Nederburg Sekondêr se jaarlikse sewes-toernooi aangewys.





