Die tweede reisende klaskamer is Maandagoggend (10 Februarie) met ope arms by Alfons Primêr in Wellington ontvang.
Die eerste reisende klaskamer is in 2022 bekendgestel en sedert die begin van die projek het dit ’n groot verskil in die lewe van tientalle leerders gemaak.
“Die reisende klaskamer is in plek gestel om Afrikaans te bevorder,” verduidelik Cathy Naeem, een van die juffrouens wat op die bus werk.
“Gedurende die covid-tyd het byvoorbeeld die gr.R-kinders ’n gebrek ervaar aan lees, want hulle kon nie lekker hul klanke en leesvermoëns oefen nie. Hulle is die jaar daarna na gr.1, maar steeds kon hulle nie lees op die vlak wat hulle moet nie. Alles as gevolg van ’n gebrek aan onderrig tydens die pandemie. So gaan hulle verder oor na die volgende grade toe en dan kan hulle nie lees nie.
“Deur die reisende klaskamer help ons hulle om meer lief te wees vir lees en ons help hulle met hulle telvermoë, want as hulle nie geletterd is nie, kan hulle nie wiskunde doen nie. Baiekeer doen die kinders hul begripstoetse dan lees hulle nie met begrip nie. Hulle verstaan nie wat hulle lees nie omdat die gebrek daar by die fondasie is.”
Die projek word moontlik gemaak deur DGB se liefdadigheidstrust. DGB is een van Suid-Afrika se grootste onafhanklike wyn- en spiritusprodusente en -verspreiders. Die Give Children a Chance-trust (Hutch) lewer ook ’n bydrae tot die projek, terwyl Kinderland Akademie ook die projek aan die stuur hou.
Die twee reisende klaskamers bedien tien skole in die landelike gebied van Wellington. Volgens Naeem volg die nuwe bus die ou roete van die afgelope twee en ’n half jaar en die bestaande bus volg die nuwe roete.
“Dit is omrede die nuwe roete se skole nog nie daai boeke gelees het wat in die bestaande bus is nie. Die ou skole het nou al die boeke in die bestaande bus deurb gedraf.”
Jacobus Minnaar, een van die busbestuurders, is ook sedert die begin van die projek betrokke. Buiten sy taak om die bus te bestuur het Minnaar ook ander verantwoordelikhede in die reisende klaskamer, soos die opdatering van die stelsel wanneer ’n boek gelees is of uitgeneem word.
“Sedert die begin van die program tot nou kan ons sien daar is ’n baie groot verandering. By die nuwe skole waar ons nou gaan, kan jy sien daar is ’n groot tekort aan lees met begrip by die kinders. Dit is maar die algemene probleem. Die selfone het heeltemal die plek van boeke kom oorvat, waar die kinders voorheen tyd gemaak het vir lees. Die onderwysers kom na ons en bedank ons, want hulle wat elke dag met die kinders werk, merk die verandering op.”
John Steenhuisen, minister van landbou, het ook die bekendstelling bygewoon en groot bewondering getoon vir die projek en die verskil wat dit in die lewe van baie leerders bring.
“Dit is wonderlik om die dinge te sien wat vir ons kinders gedoen word. As ons ’n toekoms vir ons kinders wil hê, dan moet ons seker maak hulle het die opleiding, kans en die geleentheid gekry om hulself te verbeter.
“Die waarheid is ons onderwysstelsel sit vir jare met groot probleme met kapasiteit, en selfs ook met materiaal en rekenaars.
“Die geleentheid maak seker dat die onderwysuitkomste op die ou einde beter is vir hulle. As ons hierdie opleiding gaan gee, dan is daar meer kans dat ons kinders, wanneer hulle skool verlaat, kans het om werk te kry of hul eie onderneming kan begin.”





