Die oorspronklike The Itch Band in al hul glorie, met groeplede Kosie Steyn, John Smook, Ian Visser en Mike Hartung. Foto:

Credit: SYSTEM

Die lang wag is verby – Paarl se uiters gewilde The Itch Band gaan ná ’n afwesigheid van bykans 16 jaar weer die verhoog betree.

Die oorspronklike band is in die vroeë jare negentig gestig deur die bekende Paarliete John Smook, Kosie Steyn en Mike Hartung.

Saam met dié groep het hulle ’n klub gestig, Club Destiny. Vir eers het die band ’n lae profiel gehandhaaf en slegs vir sy “lede” gespeel, of op uitnodiging vir gaste by veral die Keurfontein-wynproe- en konferensiesentrum.

Hulle het so vinnig gewild geraak dat hulle ander venues moes begin soek.

Die groep se naam is ook toe verander na The Itch – al die groeplede was daardie tyd om en by 40, dus het die naam ontstaan weens hul 40 year itch.

Van hier het hulle by die destydse Keg & Owl in Paarl se hoofstraat gespeel. Daarna beweeg hulle oor na die Oumeul-teater, maar dié het ook gou te klein geraak vir The Itch se gewildheid. Intussen het Wiwe Pretorius en Francois Louw ook vir hulle sommer toneelspellesse gegee en Leonard Smook kom toe ook by, as tromspeler.

Die groep het al hoe gewilder geraak en hulle besluit toe om in die laat 90’s die stadsaal te gebruik as die jaarlikse venue vir The Itch Show.

Met die begin van hierdie era het die groep en die Smook-familie-organiseerders die besluit geneem om groter te gaan en meer uit te gee aan klanktoerusting, verhoogkuns ens. om ’n meer professionele show aan te bied. Die oogmerk was ook om professionele vertonings te lewer wat as geldinsamelingsprojek vir die Paarl Hospies kon dien.

Ian Visser het ook later as hoofkitaarspeler aangesluit.

In die stadsaal is ’n platform gebou vir die dromme en omdat Leonard bang was hy val van die platform af, moes hulle altyd aan die agterkant matrasse pak sodat hy sag kon val, indien dit sou gebeur.

Hierdie jaarlikse The Itch Band-vertonings was uiters suksesvol en het elke keer in ’n stampvol Paarlse stadsaal plaasgevind.

Robbie Gass het elke show amptelik geopen, geklee in sy tradisionele Skotse gewaad, met kilt en al, en hy het altyd ’n lied op sy doedelsak gespeel. Daarna het hy sy kilt opgelig om te wys dat hy in ware Skotse styl nie ’n onderbroek dra nie. Maar hy het darem net sy agterstewe gewys.

Die laaste show in die stadsaal was in 2007. Hierna is die groep uitmekaar, weens die afsterwe van beide John en Leonard Smook.

Maar ’n nuwe era het nou aangebreek en The Itch Band maak op 29 Julie weer sy verskyning in die Paarl-stadsaal.

John en Leonard word vervang deur Rentzke Smook (John se seun) as hoofsanger en op ritmiese kitaar, en Jean Labaschagne op dromme. Bykomend is Kosie Steyn (kitaar), Ian Visser (kitaar) en Mike Hartung (baskitaar en sang).

By die eerste vertoning sal die bekende Afrikaanse sanger Emile Swiegers ook hand bysit.

Die musiek van The Itch sluit in die klanke van Rolling Stones, The Police, Rodrigues, Bee Gees, Bad Company, The Beatles, Eric Clapton, Guns & Roses, Bryan Adams, Dire Straits en veel meer.

. Die konsert op 29 Julie begin om 19:00 vir 19:30 en kaartjies kos R295 per persoon. Daar sal drie bottels rooiwyn per tafel aangebied word. Verder is daar ’n kontantlose kroeg, asook kos-trokkies. Gaste kan ’n piekniekmandjie saambring, maar jy mag nie jou eie drank saambring nie. Slegs ses- en tien-sitplek tafels is beskikbaar.

Kontak Michelle vir besprekings vroegtydig by 021 975 6794 (uitbreiding 2007) of e-pos haar by Michelles@residentiatrust.co.za.

Daar is ook ’n paar DVD’s beskikbaar van die laaste show van die oorspronklike Itch Band en sal te koop aangebied word ten bate van die Paarl Hospice. Dié hospies het ook baie goeie bystand verleen ten tye van versorging van John en Leonard voor hul heengaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article