Die nuus dat plaaslike onluste vandeesweek die lewe van iemand geëis het, is kommerwekkend, om die minste te sê. Die drama het verlede Saterdag begin ontvou toe wetstoepassers van die Drakenstein-munisipaliteit onderweg was om onwettige strukture aangrensend aan die Magnolia-woonstelle te verwyder.
Dié optrede is egter gekeer toe geweld uitgebreek het en die munisipale beamptes verhinder is om hul pligte uit te voer.
Die optrede is Dinsdag hervat, maar hierdie keer was daar sterk polisieteenwoordigheid. Dit is seker doelloos om te sê chaos het uitgebreek en te midde hiervan is ’n man doodgeskiet.
Dit is steeds onseker van waar die noodlottige koeël afkomstig was.
Die munisipaliteit het eerstens ingevolge die wet opgetree om onwettige strukture te sloop nadat klagtes juis vanuit dieselfde gemeenskap hieroor ontvang is. Maar toe hulle daadwerklik opgetree het, het dit in ’n kruitvat ontaard.
’n Baie duister toekoms lê hieroor voor. Het ons gemeenskap nou in algehele anargie verval en woon ons nou in ’n wettelose land?
Hoe gaan wette in die vervolg toegepas word as dit die boodskap is wat uitgestuur word? Is ons dorp nou by ’n kruispad of ’n doodloopstraat?
,




