Die Drakensteinse sakekamer se visie is om deur inligting, raad en opleiding suksesvolle sakenetwerke vir ons lede te bou. Die sakekamer bestaan uit onafhanklike ondernemers wat meesal klein en medium organisasies met ongeveer 10-50 werknemers in hul diens besit en bestuur.

Hulle verwelkom groter organisasies wat kan leiding gee en kleiner ondernemings kan mentor of hul kennis kan deel deur relevante inligting en nuus wat ons deur ons verskeie sosialemediakanale tot voordeel van ons lede in die sakegemeenskap versprei.

Deur verantwoordelike entrepreneurskap te bevorder, poog die sakekamer om ondernemers in staat te stel om waarde te skep deur die identifisering van nuwe geleenthede en gelyklopend daarmee die bestuur van die risiko van toepassing op sulke geleenthede.

Verder is dit hul missie om nuwe toetreders tot die sakegemeenskap te fasiliteer om deur middel van kennis van bewese kommunikasie en bestuursvaardighede die finansiële, menslike en materiële bronne te kan mobiliseer om sakeprojekte suksesvol aan te durf.

Om entrepreneurskap aan te moedig en verdienstelike gemeenskapswerkers of amptenare in ons gemeenskap, wat ’n verskil gemaak het gedurende die jaar, te identifiseer en toepaslik te beloon, word daar in Julie en Augustus ’n kompetisie vir die Drakenstein-Sakemens van die jaar deur die sakekamer, Paarl Post en verskeie borge van stapel gestuur. Vyf afdelings is reeds geïdentifiseer en sakekamerlede en die publiek word genooi om benoemings vir verdienstelike gemeenskapswerkers in enige relevante kategorie voor 15 Augustus op ons benoemingsvorm in te stuur.

Die kompetisie en die versameling van aansoeke en voorstelle begin op 15 Julie en die finale beoordeling sal teen 15 Augustus plaasvind.

Drie finaliste sal in elke afdeling aangewys word en die paneel sal teen 15 Augustus op die wenners besluit, waarna dit op ons jaarlikse dinee op 26 Augustus 2022 aangekondig sal word. Eerbewyse, wat ’n koopbewys van R10 000 aan die Drakensteinse Sakemens van die jaar en R1 000 se koopbewyse aan elk van die verdienstelike kategoriewenners behels, sal by die dinee oorhandig word.

Die beoordelingspaneel sal bestaan uit verteenwoordigers van die sakekamer, Paarl Post, ons sosialemediaspan en ons rekenmeester.

Die beoordelingskriteria vir die Sakekamer-onderneming van die jaar-kompetisie is op die kompetisie-aansoekvorm uiteengesit en word beoordeel volgens ’n puntestelsel en subjektiewe beoordeling van voorleggings wat deel van hierdie aansoekvorm is.

Punte sal toegeken word vir:
. Is die ondernemer ’n aktiewe lid van die sakekamer asook tussen 18 en 48 maande bedrywig in sy of haar onderneming?. Is die ondernemer geregistreer volgens die voldoeningsvereistes van Sars en die onderskeie wette op billike indiensneming?. Word die onderneming behoorlik ge-oudit – is finansiële state beskikbaar?. Het die onderneming ’n geskrewe sakeplan en word dit gereeld besoek en aangepas waar nodig? Bevat die plan elemente van bemarkingsbestuur, voldoeningsbestuur, finansiële bestuur, menslikehulpbronbestuur en bedryfsbestuur?

’n Subjektiewe puntestelsel sal gevolg word vir:1. Die ondernemer se rol in die onderneming en waar sy/haar betrokkenheid ’n verskil gemaak het.2. Die ondernemer se toepaslike ondervinding wat die onderneming laat werk het.3. Die mededingendheid, volhoubaarheid en watter behoefte van die mark deur die produk bedien word.4. Watter gaping vul die produk en watter mededingende voordeel geniet die produk in die mark?5. Is die produk/diens onderhoubaar en volhoubaar?6. In watter mate lei die ondernemer werknemers op vir beter vaardighede en indiensneembaarheid?7. Bestaan ’n potensiaal vir uitbreiding en het die ondernemer duidelike en werkbare idees vir uitbreiding? Indien wel, is dit duidelik, realisties en haalbaar?8. Hoe maak die ondernemer gebruik van sosiale media en digitalisasie om sy/haar sakeprosesse te dryf?9. Skep die onderneming werk vir die plaaslike bevolking?10. Is die ondernemer aktief betrokke by buitemuurse aktiwiteite soos burgerlike organisasies om verantwoordelike burgerskap uit te leef?

Die inskrywingsfooi vir Sakeonderneming van die jaar-kompetisie is R1 000 en inskrywingsvorms sal van 10 Julie af by info@drakensteinsakekamer.co.za beskikbaar wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article