’n Groep van ses inwoners, wat begunstigdes is van huise in die Vlakkeland-gebied, is ontevrede oor die slakkepas waarteen dié projek vorder.

Een van die klaers, wat verkies om weens beweerde viktimisering nie sy naam te noem nie, sê hy en vyf ander mense van wie hy weet, het reeds in 2019 meer as R800 aan die munisipaliteit betaal omdat hulle geglo het hul huise is byna gereed om in te trek.

“Ons huur by mense, en elke keer moet ons vra dat ons huur verleng word. Ons het gespaar en teëls en meubels gaan koop sodat ons, wanneer ons intrek, ons huise kan mooimaak, maar ons moes alles by mense stoor, want die winkels kon dit nie langer hou nie. Ek het materiaal gekoop om ons huis te omhein. Die pale is al gesteel. Ons ly ook ander verliese en ons word in ’n moeilike posisie geplaas by die mense by wie ons tans huur. Ons sou al in 2019 getrek het.”

Die klaer vertel ook dat een begunstigde, ’n bejaarde vrou, reeds gesterf het – voordat sy haar nuwe huis kon geniet.

“Ons het elke keer by die behuisingskantoor gaan vra hoe ver ons huise is, maar die raadslid het telkens gesê indien ons elke keer gaan navraag doen, gaan ons by die woonstelle in Chicago of bo in Klein Drakensteinweg ingedruk word. Toe besluit ons maar om te wag, maar niemand kom terug na ons nie.”

Volgens Jacqui Samson, uitvoerende direkteur van beplanning, ontwikkeling en menslike nedersettings by die Drakenstein-munisipaliteit, is een van die twee oorspronklike kontrakteurs wat vir die projek aangestel is se kontrakte beëindig omdat hulle nie goed gevaar en nie die ooreengekome teikens bereik het nie.

“Ná ’n uitgerekte arbitrasieproses is die kontrakteur se aanstelling uiteindelik in die middel van 2021 beëindig. Die provinsiale regering het toe begin met ’n verkrygingsproses om ’n nuwe kontrakteur aan te stel. Die verkrygingsproses het egter langer geduur as wat verwag is weens verskeie tegniese aangeleenthede, insluitend prysonderhandelings. ’n Nuwe kontrakteur is onlangs formeel aangestel en die nodige waarborge van die kontrakteur word ingewag alvorens hulle die terrein kan betree,” het Samson gesê.

Sy sê die R800 wat begunstigdes betaal het, is ’n verbruikersdeposito.

“Elke begunstigde, hetsy privaat of deur die staat, moet hierdie deposito betaal wanneer ’n nuwe huis gekoop word. Sou iemand nalaat om sy munisipale rekening te betaal, sal die munisipaliteit eers van hierdie deposito aftrekkings doen alvorens agterstallige fooie gehef word.

Die munisipaliteit raai gewoonlik mense vroegtydig aan om hierdie deposito te betaal aangesien nie-betaling tot ’n gesloer met die aanskakeling van die nodige dienste kan lei wanneer die huis gereed is vir oorhandiging.”

Volgens Samson sal dit eers – wanneer die kontrakteur die terrein betree en hulle die munisipaliteit van ’n konstruksieprogram voorsien – bepaal kan word wanneer die huise oorhandig gaan word.

“Aandag sal wel eers gegee word aan huise wat deur die vorige kontrakteur onvoltooid gelaat is.”

Samson sê ook indien die klaers ’n verduideliking wil hê, is hulle welkom om die Paarl-Oos-behuisingskantoor se projekte-afdeling te besoek, waar verskeie amptenare is wat die gemeenskap bedien en heeltemal bevoeg is om vrae te beantwoord.

Die klaers sê egter hulle het dié kantoor al telkemale besoek, en elke keer dieselfde terugvoering gekry.

Hul laaste besoek was op Vrydag 5 Mei, en soos al die ander kere is hulle meegedeel dat hulle op die provinsie wag.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article