Inwoners van die Klein Draken­stein-gemeenskap is raadop oor die gereelde tendens van klipgooiery vanaf brûe op die N1 by die Paarl, veral in die omgewing van die Sonstraal-afrit.

Die frustrasies word gereeld op die Drakenstein-plaaswag-groep se WhatsApp gedeel.

Die grootste kommer heers oor vermoedelik herhaalde­like oortreders wat na bewering keer op keer in die hof aan klip- of vrugte-gooiery skuldig bevind word en ’n paar dae later weer op straat verskyn.

’n Foto van so ’n herhaaldelike oortreder is op die groep gedeel, waarna talle inwoners getuig het dat dié man al by vorige geleenthede hulle en hul naasbestaandes geteiken het.

“Ons het hierdie man nou al hope kere op heter daad betrap, vasgetrek en aan die polisie oorhandig. Die volgende dag is hy weer uit. Kan julle regsadviseurs raadpleeg oor hoe om die situasie verder te hanteer? Dit kan net nie so aangaan dat niks met so ’n oortreder gebeur nie,” het ’n promi­nente plaaseienaar gekla.

Nog ’n groeplid het beweer dat dieselfde oortreder op vorige geleenthede gevang is nadat hy klippe van die Sonstraal-brug af gegooi het, terwyl ’n ander gekla het dieselfde man het sy vrou se motor twee weke tevore met pruime bestook.

Verder word beweer dat die howe “ligte vonnisse” aan sulke oortreders oplê, aangesien die misdaad nie van so ’n ernstige aard blyk te wees nie.

Paarl Post het al sedert 2007 in nuusverslae berig oor dié tendens wat al telkemale mense se lewe geëis het.

Op 4 April 2007 is berig dat Michael Tukway (45) op slag dood is nadat ’n klip deur die voorruit van sy motor gebars het toe hy op die N1 onderweg na Kaapstad was.

Die klipgooi-probleem het ook die lewe van ’n geliefde onderwyseres, Michelle Pietersen (58), op 28 November 2019 op die N1 geëis. Sy is dood nadat ’n kwaaddoener ’n klip naby Simonsvlei na die voertuig waarin sy was, gegooi het.

Navraag is aan die Paarl-polisie gerig om die vermeende herhaaldelike oortreder se identiteit te bevestig om as waarskuwing vir die breër gemeenskap te dien. Kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van dié polisiekantoor, het gesê die polisie mag nie die inligting verskaf nie en die hof moet eerder so ’n oortreder se identiteit bevestig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article