Nadat ’n inwoner van Chicago al haar besittings verlede maand in ’n brand verloor het, het sy dit goed gedink om ’n muur op te rig om haar herboude woning te beskerm teen moontlike brande wat in die toekoms kan uitbreek.
Maar vir die Drakenstein-munisipaliteit was dit nie genoegsame rede om ’n muur te bou nie, en het hy dit afgebreek terwyl die inwoner by die werk was.
Die vrou, wat nie haar naam genoem wil hê nie, sê hoewel dit die tweede muur is wat sy sonder ’n bouplan oprig, is dit nie kwaadwillig gedoen nie. Sy wil bloot die bietjie wat sy en haar dogter nog besit, beskerm. Sy voel egter baie ongelukkig omdat daar soveel ander onwettige strukture in Chicago is, maar sy die enigste is wat die munisipaliteit aanpak.
“Ek voel daar is ’n klomp onwettige geboue in Chicago, maar nie een keer het hulle [die munisipaliteit] daai mense se goed kom afbreek nie. Nou hoekom nou vir my, van alle mense, wat ook ’n inwoner van Chicago is? Hoewel daar ’n klomp onwettige goed is, kom hulle sommer net so en breek my muur af. Dis mos geld – ek het gewerk daarvoor.”
Volgens die vrou was haar buurvrou van plan om ook ’n muur op te rig toe ander inwoners klagtes by die munisipaliteit gaan indien het. Hulle was ongelukkig oor die derde muur omdat dit glo ’n deurlooppad sou versper.
Op ’n vergadering met die behuisingskantoor op 3 Mei het die vrou die munisipale amptenare meegedeel sy voel sy word onregverdig behandel. Sy het die munisipaliteit op die vergadering ook ingelig oor ’n onwettige swembad wat in die omgewing gebou is en ’n ondergrondse waterpyp wat van een van die woonstelle af tot by ’n opslaanwoning aangelê is.
“Ek het gesê as dit nou regverdig moet wees, dan moet hulle daai swembad afbreek. Hulle moet daai kraan, wat ook onwettig daar staan, ook afbreek. Daai pyp is nog altyd onder die grond; daai swembad staan nog altyd.”
Die behuisingskantoor het ’n sewe-dae-kennisgewing op 6 Mei aan haar ma oorhandig terwyl sy by die werk was. Die brief was om die vrou in te lig dat haar muur binne sewe dae afgebreek sou word. Volgens haar het die munisipaliteit nie eens die volle sewe dae gewag nie. Die muur is verlede Dinsdag (10 Mei) platgegooi. Die eerste muur, wat omtrent twee jaar terug gebou is, staan nog omdat die platgooi daarvan glo opslaanwonings erg sal beskadig.
“Ek weet nie eens of hulle ’n hofbevel gehad het om my muur af te breek nie, en daai muur was deel van my struktuur waarin ek op die oomblik woon. Daar was net een bed en niks ander meubels nie, want ek het alles in die brand in April verloor.”
Volgens die vrou is die mense wat gekla het na bewering nie eens wettige huurders van een van die woonstelle nie, en beset hulle glo munisipale grond onwettig.
“Almal [inwoners] het gemaak wat hulle wil, maar hulle [die munisipaliteit] kom na my plek toe, terwyl ek in die werk staan. Nadat ek als in die brand in April verloor het, kom breek hulle my muur, wat onwettig gebou is, af. Ek het dit gebou om my te beskerm. Kom kyk hoe lyk my plek. Die blokke lê die hele wêreld vol. My meisiekind – sy is 15 jaar oud – wil nie nou saam met my in daai plekkie slaap nie, want sy voel dit is onveilig. Sy is reg. Die muur was deel van my struktuur.”
Verdere konflik tussen die bure het ook uitgebreek toe die munisipaliteit Maandagoggend strukture, wat ’n gang tussen twee woonstelblokke in Ribbokstraat blokkeer het, afgebreek het. Dit is op dieselfde perseel waar die vrou die muur onwettig laat bou het.
Jacqui Samson, Drakenstein se uitvoerende direkteur vir beplanning, ontwikkeling en menslike nedersettings, sê die bou van die muur is onwettig en ’n afwyking van die munisipaliteit se behuisingsbeleid sowel as nasionale bouregulasies. “Die onwettige muur het toegang vir die publiek asook vir noodvoertuie belemmer. Die munisipaliteit het ’n skriftelike versoek aan die struktuur-eienaar gerig om onmiddellik die onwettig geboude struktuur af te breek. By versuim het die munisipaliteit die nodige aksie uitgevoer en die eienaar moet nou binne sewe dae skriftelik aansoek doen om haar materiaal terug te eis.
“Die klaer was bewus van alle onwettige aksie en het nie die munisipaliteit dienooreenkomstig ingelig nie. Alle ander onwettige strukture word volgens die vereiste prosedures hanteer.”
Samson voeg by dat die vrou Maandag die munisipaliteit se kantoor besoek het. “Die proses is weer eens aan haar verduidelik en sy het ingestem dat amptenare die gedeelte wat die nooduitgang versper, kan afbreek.”. A Chicago resident is unhappy because Drakenstein Municipality demolished a wall she built illegally, even though numerous illegal structures have been erected in the area.




