Vir die volgende maand of so sal die vallei gons van aktiwiteit met die talle Interskole- en derby-sportwedstryde wat hier plaasvind.
Die eerste een skop volgende week af met Paarl Gimnasium, die Hoër Jongenskool Paarl en die Hoër Meisieskool se Interskole. Van Maandag af gaan die dorp behoorlik stilstaan soos wat mense van oor die land heen hul kinders van gr. R tot matriek langs die sportvelde sal kom ondersteun.
Hierdie sportgeleentheid word beskou as die grootste skolesportderby in die land en selfs die wêreld.
Gedurende hierdie tyd bars Paarl en omgewing uit sy nate met allerlei reünies en ander byeenkomste wat gehou word om sy trotse skoolerfenis te vier.
Ons behoort hierdie tradisie van interskole te koester en ons uiterste te doen om te verseker dat dit jaarliks vlot en sonder negatiewe voorvalle verloop.
Boonop is hierdie skolesport-derby’s ook ’n toonbeeld van hoe gesonde en gedissiplineerde sportmanskap gehandhaaf word – op, langs en weg van die sportveld af.
Mag Interskole en die derby’s voortgaan om ’n viering van kameraderie in ons dorpe te wees waarop ’n ieder en ’n elk in die vallei trots kan wees.
Paarl Post wil graag elke skool sterkte toewens met al die wedstryde en dies meer wat in Augustus gaan plaasvind.
Laat die spele nou begin!




