Paarl-interskole,
die grootste enkele jaarlikse fees in die Paarl, is vir die tweede jaar weens
die Covid-19- pandemie van die baan.
In ’n verklaring
wat gister uitgereik is deur al die betrokke skole, die Hoërskool Gimnasium
Paarl, Hoër Jongenskool en Hoër Meisieskool, het hulle gesê daar is na alle
moontlikhede gekyk om die gesogte skole-sportgebeurtenis aan te bied, maar
weens omstandighede wat direk verband hou met die pandemie sal dit vanjaar weer
eens nie moontlik wees nie.
Die hoogtepunt
van Paarl-interskole, die eindstryd tussen die aartsvyande Hoër Jongenskool
Paarl en Hoërskool Gimnasium Paarl, vind reeds sedert 1915 plaas. En in dié tyd
was daar net een jaar toe die kragmeting nie kon plaasvind nie – in 1928, weens
tegniese redes. ’n Wedstryd tussen die twee skole het wel daardie jaar
plaasgevind, maar nie interskole nie.
Interskole het
uiteindelik ontwikkel in ’n reuseskouspel van topgehalteskolesport en ’n ware
week lange fees in die Paarl.
Interskole lok
jaarliks duisende mense na die vallei, ook uit die buiteland, wat beteken dat
dit ’n reusagtige finansiële inspuiting vir die Paarl-omgewing is met
gastehuise en restaurante wat uit hul nate bars en waarby talle ander
ondernemings ook baat vind.
Die eindstryd
word as die grootste skolerugbyderby ter wêreld beskou.





