Boishaai-rugbyspelers en -ondersteuners juig in ekstase ná hul Interskole-oorwinning Saterdag teen die Hoërskool Gimnasium.


’n Taaier stryd sou ’n mens nie kon verwag het nie. Dit is gewis wat Saterdag in die Faurestraat-stadion opgedis is toe die Paarl se aartsvyande, die Hoër Jongenskool Paarl en die Hoërskool Gimnasium, mekaar op die rugbyveld, ná ’n Interskole-droogte van twee jaar, getakel het.

Met die aanloop na vanjaar was dit duidelik dat dié twee skole alles gaan gee om die spogregte as Interskole-kampioen vir 2022 te eis.

Boonop sou die Sean Erasmus-faktor ook ’n kernrol speel in vanjaar se wedstryd ná sy terugkeer na Boishaai ná drie seisoene in Johannesburg by die Goue Leeus.

Erasmus was immers ook aan die stuur toe Boishaai in 2015, 2016, 2017 en 2018 geseëvier het.

Maar, alle lof moet toegeken word aan albei spanne wat mekaar op die dag behoorlik gas gegee en waarlik as ’n uitmuntende voorbeeld vir top-skolerugby opgetree het.

Van die staanspoor was dit duidelik dat hierdie ’n spannende stryd sal wees. Gimnasium se losskakel, Liam Koen, het eerste bloed geruik en punte met ’n strafskop aangeteken.

Teen rustyd het Boishaai ’n voorsprong van 9-3 geniet danksy die akkurate skopskoen van Thurlon Williams.

Williams het die dag afgesluit met 16 punte en ’n 100%-slaagsyfer van sy skopskoen.

Die uitstekende drie van Boishaai se SA skolespan-buitesenter, Shah-Jehaan de Jongh, kort ná rustyd het die skare in vervoering gehad.

’n Flink skoppie deur die skrumskakel, Juan Loots, is blitsvinnig tussen twee Gimnasium- spelers uit die lug gepluk en De Jongh is met ’n oop doellyn voor hom gelaat. Gimnasium het egter nooit gaan lê nie.

Gimnasium se yster-slot, Danio Botha, het ook ’n goeie drie gedruk, wat Liam Koen suksesvol verdoel het.

Thurlon Williams het minute later – terwyl Boishaai ’n strafskopvoordeel geniet het – ook ’n deftige skepdoel oorgeklits om die telling op 19-10 in Boishaai se guns te laat, met net ongeveer 12 minute speeltyd oor.

Gimnasium het nooit sy voet van die pedaal afgehaal nie en deur aanhoudende druk en goeie lugvaardighede daarin geslaag om van sy eie afskop af die bal terug te wen, waarna die skrumskakel, Emrique Liedeman, onder die pale gedruk het. Koen het met die maklike doelskop geslaag en met die telbord op 19-17 het Gimnasium die wedstryd begin oorheers. Met net 10 minute oor het – soos in die meeste vorige Interskole-wedstryde – ’n nuwe wending gevolg.

Hugo-Ben Horn (broer van die Goue Leeus-agsteman Francke Horn) het ’n skop in Gimnasium se kwartgebied afgestorm en een van die mees omstrede drieë in die geskiedenis van die kragmeting gedruk.

Kykers wat die skouspel op die televisie gevolg het, kon sien hoe Horn na bewering die bal aanslaan voordat hy druk. Kykweer-fasiliteite is egter nie by skolerugby beskikbaar nie en die hulpskeidsregter het die omstrede drie bevestig, wat gevolglik deur die hoofskeidsregter toegeken is.

  • Both Paarl Boys’ High school and Paarl Gimnasium played brilliant rugby in the much anticipated Interschools 2022 clash. At the end of the nail-biting game, Boys’ High were the victors at 26-24.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article