Die Faurestraat-stadion verwag vanjaar ’n rekordskare wanneer Paarl-interskole, die grootste skolerugby-derby ter wêreld, daar plaasvind. Foto:


Ná twee droë jare weens die Covid-19-pandemie gaan 2022 se Paarl-interskole sekerlik die grootste nog wees.

Die jaarlikse interskole tussen die rugbyspanne van die Hoër Jongenskool Paarl en die Hoërskool Gimnasium Paarl is immers geen gewone kragmeting nie. Daarvan getuig die sowat 25 000 toeskouers wat vir die geleentheid opdaag, om nie eens te praat van die dosyne oudleerlinge (selfs van oorsee) wat vlugtig hul morele steun kom verleen nie.

Die verdere bewys is dat die tweespalt wat met interskoletyd in die omgewing van die Paarlberg heers, erger is as die verhoudinge tussen die politieke partye voor ’n verkiesing.

Verbode sport

Tog het dit so byna gebeur dat die HJS Paarl nié ’n rugbyspelende skool geword het nie.

Met die totstandkoming in 1868 van De Paarlsche Hoogere School voor Jongens is rugbyspelery nie by die skool toegelaat nie. Dit het gelei tot toenemende ongelukkigheid onder die seuns. Hulle het toe in 1895 die skoolhoof, mnr. J. Rettie, genader met die versoek om ’n “rugbyklub” op die been te bring. Die versoek is summier van die hand gewys – met die boodskap dat indien die seuns oefening verlang, hulle liefs “in die tuin moet gaan werk”.

Rettie het in dieselfde jaar afgetree, waarna die volgende skoolhoofde darem meer genaakbaar en toegeeflik was.

Maar wat veroorsaak dat hierdie Paarlse interskolekragmeting so hoog aangeslaan word?

“Hierdie interskole is ’n herdenkingsfees,” skryf Tom Engela, die skoolhoof van Boishaai tussen 1975 en 1989, in sy boek, In die Paarl groei ’n boom.

“Dit is ’n unieke vorm van herdenking van ’n jare lange wedywering met sy oorsprong in die botsende beskouings van twee kultuurgroeperinge in dieselfde dorp: ’n groep met ’n Afrikaans-Engelse oriëntering teenoor ’n groep met ’n Afrikaans-Nederlandse toegeneentheid.”

Dit was dus ’n geval van ’n “Engelse koloniale ingesteldheid teenoor ’n tradisionele Nederlandse verknogtheid,” skryf Engela.

Omdat die twee (uiteenlopende) skole geografies so na aan mekaar geleë was, was “vergelyking en wedywering ’n natuurlike uitvloeisel”.

En dit was om aan mekaar dankie te sê vir die aansporing in die verlede, skryf Engela, dat daar nie ’n “geskikter wyse” sou wees nie as om “met heerlike, onbevange oorgawe aan die gewigtighede van ’n rugbykom­petisie” mekaar op die veld aan te durf in ’n jaarlikse “herdenkingsfees”.

Kop-aan-kop

Dit bly jaarliks maar baie riskant om op enige van die spanne te wed. Dit is ook moeilikheid soek om geld te verwed.

Dit is om die volgende redes: In die 41 interskolewedstryde tussen 1929 en 1969 is in 28 kragmetings minder as tien punte gesamentlik deur die twee spanne aangeteken.

In die 87 wedstryde sedert 1929 kon die wenspan nog net by twee geleenthede meer as 25 punte aanteken – met die Gimmies se seges in 2008 (35-8) en in 2013 (37-26). Daar was nog selde ’n punteverskil van meer as tien in ’n wedstryd.

Wat die bespiegelings oor ’n uitslag nog moeiliker maak, is die feit dat daar nooit iets soos ’n tuiswedstryd is nie. Die interskolekragmetings vind altyd op die “neutrale” Faurestraat-dorpsveld plaas.

Die 1960’s was ’n besonder interessante tydperk. Nadat HJS drie jaar ná mekaar met dieselfde telling – 6-0 – gewen het, het Gimnasium van 1964 af ’n goue era van vyf agtereenvolgende oorwinnings beleef. Toevallig was 1964 die jaar waarin Gimnasium van ’n seunskool in ’n gemengde skool omgeskep is. En miskien was dit toevallig so, sê Frikkie van Zyl, ’n oud-Boishaaier en later afrigter.

Hoewel 1929 as die amptelike aanvangsdatum van die interskolekragmeting beskou word, het die skole volgens sommige bronne reeds van 1910 af teen mekaar gespeel. In die beginjare was daar egter geen ouderdomsbeper­king ter sprake nie. Selfs van die onderwysers en afrigters het vir die skole se eerste spanne uitgedraf.

Van 1915 tot 1927 het die twee Paarlse skole sake jaarliks om die Philips-beker uitgespook. Die uitslae van die skole se eerste drie o.19-spanne het op ’n puntegrondslag die tuiste van die trofee bepaal.

In 1928 het die twee skole nié teen mekaar gespeel nie – om ’n besondere rede. Die Paarl-klub, die destydse eienaar van die Faurestraat-stadion, was daardie jaar nie te vinde vir ’n voorstel dat die hekgeld gelykop tussen die klub en die twee skole verdeel word nie. Gevolglik is die hele interskoledag afgelas.

Volgens ’n opgespoorde koerantuitknipsel is van 1930 tot 1963 jaarliks twee wedstryde tussen die skole gespeel – die “interskole”, wat in Mei plaasgevind het, en later, in Augustus, die “ligawedstryd” (soos gereël deur die WP se hoërskolerugbyunie).

Interskole word die afgelope jare op die eerste Saterdag van Augustus gespeel.

Die kragmetings tussen Hoërskool Gimnasium Paarl en Boishaai word ook voor stampvol pawiljoene gespeel.

Waar kom die skole sy byname vandaan?

Die benamings Galpille, vir leerders aan die HJS Paarl, en Bloedworse, vir die Gimnasium-leerders, is nie meer so algemeen in gebruik wanneer na die rugbyspelers van die twee skole verwys word nie. Dit bly egter steeds handige slingerklippe om die manne “anderkant die draad” by te kom.

Uit navrae blyk dit dat die Gimmies Bloedworse geword het as gevolg van die skool se destydse rooi kleurbaadjies. Gimnasium se kleurbaadjie het sedert die 1940’s hoofsaaklik ’n groen kleur.

Die oorsprong van die Galpille is ietwat onseker, maar dit is blykbaar na aanleiding van die feit dat die manne mekaar op die sportveld so “gekou” het en die bitterige kousel nie ’n smaak is wat jy lank met jou wil saamdra nie.

In die 106 jaar wat interskole tussen die twee Paarlse skole gespeel is, het Hoërskool Gimnasium 44 keer gewen en HJS 36 keer. Hulle het in nege wedstryde gelykop gespeel.. For 106 years, Paarl Boys’ High School and Paarl Gimnasium have been battling it out on the rugby field during Interschools – the biggest schools rugby derby in the world.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article