’n Paarlse onderwyser het Vrydag (17 November) met groot trots gestaan toe hy die tweede agtereenvolgende jaar die Onnieveerder van die Jaar-prys ontvang het.
Niel Steyn, ’n onderwyser by die Laerskool Noord-Eind, het die goeie nuus ontvang tydens ’n spoggeleentheid van die Solidariteit-skole-ondersteuningsentrum (SOS) by die AfriForum-teater in Pretoria. Noord-Eind het ook die derde plek in die Topskool van 2023-afdeling ingeneem.
“Dit het eers onwerklik gevoel. Dit is ’n groot voorreg en eer. Toe die aankondiging kom, het dit soos ’n droom gevoel. Ek dink nie dit het al regtig ingesink nie. Saam met dit het ek trots gevoel, want ’n mens moet trots in jou werk hê. Ek het glad nie verwag om dit ’n tweede agtereenvolgende jaar te wen nie. Dit was ’n groot verrassing.”
Dit is die vierde jaar wat hierdie kompetisie aangebied word. Steyn het verlede jaar ook met die einste prys weggestap.
Volgens Valentyn van der Merwe, hoof van innovering by die SOS, is ’n “onnieveerder” ’n onderwyser wat tegnologie innoverend inspan en so ’n beduidende uitwerking op leerders se opvoeding en onderrig het.
“Hierdie onderwyser gebruik tegnologie as ’n grondslag om onderwys te verbeter – hoofsaaklik deur die Wolkskool-platform van die SOS as ’n onderrighulpmiddel te benut.”
Die Wolkskool is ’n aanlyn leerplatform, wat van die jongste tegnologie gebruik maak. Die platform het meer as 16 000 videolesse, werkkaarte en assesserings in agt laerskool- en 16 hoërskoolvakke in Afrikaans, en word deur SOS beskikbaar gestel.
Steyn sê hy maak die leerplatform deel van sy daaglikse en weeklikse beplanning. Hy neem ook gereeld deel aan opleidingsgeleenthede wat SOS vir onderwysers aanbied en wat hulle leiding bied om leerders vir ’n tegnologiese wêreld wat gereeld verander, voor te berei. Die vakke wat Steyn aanbied, sluit in wiskunde (gr. 7), ekonomiese en bestuurswetenskappe (gr. 7), persoonlike en sosiale welsyn (gr. 5), en geskiedenis (gr. 4). Hy is ook die wiskunde-vakhoof van die intermediêre en senior fase (gr. 4 – 7).
“Ek het ’n wiskundeklas op Wolkskool, waarin ek vir leerders boodskappe en assesserings kan stuur. Ek stuur vir leerders die volgende week se temas wat ek gaan behandel. Leerders kan dan tuis na die Wolkskool-video’s kyk en ’n assessering oor die inhoud van die video’s doen.
“Hierdie assesserings wat die leerders doen, skep ’n geleentheid deurdat ek in die klaskamer meer aandag aan probleemoplossing kan gee en ’n hoë standaard kan handhaaf. Dit staan bekend as die ‘omgekeerde klaskamer’. Ek het dit deur opleidingsgeleenthede by SOS geleer. Ek woon gereeld SOS se opleidingsgeleenthede by om op hoogte te bly van enige veranderinge wat tot voordeel van leerders kan wees. Ek wil net die beste vir elke leerder hê en hulle tot hul volle potensiaal laat ontwikkel.”
Steyn bedank ook die skoolhoof van Noord-Eind, André Verhoog, wat die onderwysers in 2019 aan SOS en Wolkskool bekendgestel het.
“Dit is baie leersaam en tot voordeel van elke kind. Ek is natuurlik baie trots op Laerskool Noord-Eind, wat ook met die derde plek weggestap het. Dit is ’n voorreg om met Laerskool Noord-Eind geassosieer te wees.”
Verhoog het Steyn met sy prestasie gelukgewens.
“Laerskool Noord-Eind is ongelooflik trots op Niel met hierdie prys, wat hy vir die tweede agtereenvolgende jaar ontvang het. Ek wil hom baie graag bedank dat hy daagliks so getrou gebruik maak van Wolkskool sodat hy te alle tye net die beste aan die leerders kan bied.”
. A Paarl teacher stood with great pride on Friday (17 November) when he received the Innovative Teacher of the Year award for the second consecutive year.





