’n Jong vrou van Wellington se passie vir menseregte en die bemagtiging van vroue het haar gedruk om ’n inisiatief vir sanitêre doekies met haar vriendinne te begin.
Jamie-Lee Lakey sê die groep is bekend as Empowered Feminines en het ’n slagspreuk wat lui “grow with purpose, bloom with grace”.
Buiten die sanitêre doekies aanvaar hulle ook skenkings soos waslappe en seep, wat saam met die doekies versprei sal word.
Lakey (21) is tans in haar tweede jaar van regstudies aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Die idee om ’n organisasie te stig wat op slagoffers van geweld – veral vroue en kinders – fokus, het een oggend gekom toe sy en haar peetpa, Gareth Arends, op pad werk toe gery het.
“Ek was opgewonde, want dit is my droom. Hy het nog in my matriekjaar in ’n toespraak gesê: ‘Ek was so trots toe sy vir my sê sy wil ander mense help.’ Maar dit kon nie realiseer nie.”
Arends is op 31 Julie 2021 as gevolg van Covid-19 dood. Lakey was verpletter en het haar droom tussen die onverwagse hartseer deur opsy geskuif.
Sy sê die dood van haar peetpa is een van die moeilikste ervarings wat sy moes beleef.
“Ek het deurgedruk en eendag om middernag ’n boodskap aan Shany Leibrandt, een van my vriendinne wat welbekend is met uitreike, gestuur. Ek het haar van my idee om uit te reik, vertel. Ek onthou sy het gevra ‘so laat?’ omdat ek haar letterlik in die middel van die nag ’n boodskap gestuur het. Sy het dadelik haar ondersteuning gebied.
“Ek het die gedagte later laat oorstaan aangesien my studies dit onmoontlik gemaak het, maar toe ek uiteindelik ’n blaaskans kry, toe dink ek net go for it en sit al my fokus op die uitreik.”
Lakey glo dit is ’n taak wat die Here haar op die hart gelê het en iets wat sy moet voltooi.
Die inisiatief is daarop gefokus om vroue van alle ouderdomme – jonk en oud – en wat slagoffers van armoede en geweld is, te bemagtig.
Buiten Lakey en Leibrandt is ander vroue ook betrokke – Baheyah Engelbrecht, Muneeba Sulaiman, Cindy-lee de Villiers, Lee-Jane Stuurman, Shaunique Adams, Shihaam Sulaiman en Ashlynn Moses.
“Ons is nie ’n geregistreerde organisasie nie, maar doen die uitreiking met die hoop om daarby uit te kom. Met dit bygesê, redeneer [ons] ook altyd dat mans gratis beskerming, soos kondome, by gesondheidsfasiliteite kry.
“So, waarom kan ons nie gratis sanitêre [doekies] aan vroue gee vir iets wat natuurlik is nie? Seks is ’n keuse en menstruasie nié. Ons wil GBV en alle onregverdigheid teenoor vroue tot ’n einde bring, daarom glo ek vroue moet mekaar te alle tye ondersteun.”
Die regskliniek van die Universiteit Stellenbosch het in 2018 ’n skriftelike voorlegging by die nasionale tesourie ingedien met die voorstel om belasting op vroulike higiëniese produkte te skrap.
Monja Posthumus-Meyjes, ’n advokaat by die US se regskliniek, het destyds gesê meisies en vroue ervaar ernstige gevolge in hul lewe omdat hulle nie higiëne- produkte kan bekostig nie.
“Sowat 30% van vroulike leerders in Suid-Afrikaanse skole woon nie skool by wanneer hulle menstrueer nie, aangesien hulle nie sanitêre higiëne-produkte kan bekostig nie. Dit beteken dat ’n meisie effektief ongeveer 90 dae skoolopleiding per jaar kan verloor as ’n direkte gevolg van kwessies wat met menstruasie verband hou,” het Posthumus-Meyjes bygevoeg.
Tito Mboweni, die voormalige minister van finansies, het maande later aangekondig dat vroue van 1 April 2019 af nie meer belasting op sanitêre doekies sal betaal nie.
Tot dusver het die span van Empowered Feminines heelwat skenkings ontvang. Hulle het ook geldelike skenkings ontvang, waarmee hulle doekies gaan koop. ’n Koopbewys word daarna aan skenkers verskaf. Al die doekies sal op 7 Mei aan vroue en meisies versprei word.
Lakey sê verder verskillende aflaaipunte is in Paarl en Wellington beskikbaar, waar skenkings afgelaai kan word.
Kontak Lakey by 067 091 3032 vir meer inligting oor die inisiatief.. The passion for human rights and the empowerment of women has pushed a young woman from Wellington to start a sanitary pads initiative with some friends.





