informele nedersetting
Die informele nedersetting buite Klapmuts op die R101, of te wel die Ou Paarl-pad.

‘n Groeiende informele nedersetting, met ongeveer 68 inwoners buite Klapmuts oorkant die stortingsterrein en skuins oorkant die polisiekantoor, ook duidelik sigbaar vanaf die N1, is ‘n groot kopseer vir die Stellenbosch-munisipaliteit vandat onwettige strukture daar opgerig is.

Volgens JC Anthony, Klapmuts se wyksraadslid, het die grond oorspronklik aan die Drakenstein-munisipaliteit behoort, maar dit is in Februarie 2022 aan die Stellenbosch-munisipaliteit oorgegee, toe die onwettige besetters reeds tóé al ‘n probleem was.

Anthony het verduidelik die Stellenbosch-munisipaliteit is tans besig met ‘n regsproses om die onwettige besetters te verwyder, maar volgens hom sal dié proses nog lank duur.

Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, wou egter nie uitbrei oor dié regsgeding nie.

“Die meeste van die individue wat op hierdie stuk grond woon, het aangedui hulle woon tussen nou en 10 jaar [gelede al] in die gebied, met sommige wat ‘n teenwoordigheid van meer as ‘n dekade erken het,” het Grobbelaar gesê.

Illustrasiefoto. Foto: Jana Scheepers

Volgens Anthony het die munisipaliteit tans “geen beheer” oor die doen en late van die inwoners van die informele nedersetting nie, en is dit “hartseer” vir hom om te sien, omdat dit potensiële ontwikkelinge in en om Klapmuts kan belemmer.

Hy het gesê die mense wat op die grond bly, kom uit Kraaifontein en Mbekweni, en ‘n groot rede vir hul trek na dié informele nedersetting buite Klapmuts is om plek te kry om te boer.

Klapmuts-inwoners en motoriste sal gereeld ‘n aantal bokke en beeste gewaar wat langs die Ou Paarl-pad, oftewel die R101, met ‘n wagter by hulle wei.

Volgens Anthony behoort die vee aan van die onwettige besetters, wat gedurende die dag hul diere op die grasveld langs die polisiekantoor laat wei.

Hy het bygevoeg die grond is immers nie gesoneer vir ‘n veeboerdery nie, maar slegs vir besigheid, en gaan moontlik as deel van ‘n toekomstige ontwikkeling naby Klapmutskop gebruik word, het die Paarl Post voorheen berig.

Die grond het ook nie elektrisiteit of lopende water nie, het Grobbelaar bevestig.

Anthony het telefonies aan Paarl Post gesê ten spyte van wetstoepassers en ander veiligheidsinstellings se gereelde verskyning om te verhoed dat nie nog strukture opgerig word nie, groei die nedersetting steeds.

Die besette grond strek oor sowat 225 hektaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article