Die lewe van meer as 350 000 jong meisies is die afgelope tien jaar in die Wes-Kaap teen kanker beskerm. Ouers en gesondheidswerkers het saamgespan om seker te maak dat jong meisies teen die menslike papiloomvirus (MPV) ingeënt word sodat hulle ’n verminderde risiko het om as volwassenes servikale kanker te kry.

Wes-Kaap Regering Gesondheid en Welstand se skolegesondheid­spanne besoek openbare en spesiale skole tussen 6 Februarie en 20 Maart om die MPV-entstof gratis te gee. Alle meisies in gr. 5 en wat nege jaar en ouer is, kan die inenting teen die virus kry om kanker te voorkom.

Sr. Fiona Wiid van Gesondheid en Welstand se span in die Drakenstein sub-distrik sê sy doen baie moeite om met onderwysers en leerders te praat sodat hulle verstaan waarom die entstof so belangrik is.

Slegs meisies wie se ouers of voogde toestemming gee, sal die gratis entstof ontvang. “Voorko­ming is beter as genesing. Dit is beter om nou die entstof te kry eerder as om eendag vir kanker behandel te word,” sê Sr. Wiid, wat lid was van die spanne wat tien jaar gelede met die veldtog begin het.

Servikale kanker raak die lewe van baie vroue in die provinsie. Maar, die MPV-entstof is ’n doeltreffende wapen teen die virus en word gratis aan meisies wat kwalifiseer, gebied. Dit is deel van die regering se toewyding om saam so veel lewens as moontlik te red.

“Die MPV-entstof is ’n doeltref­fende manier om servikale kanker te voorkom. Dit is veral doeltreffend wanneer dit toege­dien word voordat die individu seksueel aktief is, dus beveel ons aan dat dit vroeg in die tiener­jare toegedien word,” sê dr. Nomonde Mbatani van die afdeling van Obstetrie en Ginekologie by die Groote Schuur-hospitaal.

Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand het sedert 2014 byna 350 000 entstowwe in die provinsie toegedien, en bereik jaarliks ongeveer 1 200 skole.

Die entstof gee ’n unieke geleentheid vir almal om hande te vat om die gesondheid van meisies en vroue te beskerm.

Gesondheidswerkers in die Breedevallei, Drakenstein, Langeberg, Stellenbosch en Witzenberg moedig ouers aan om die toestemmingsbriewe wat hulle van die skool ontvang, te onderteken sodat hul dogter die entstof kan ontvang.

Die veldtog teen MPV is deel van inisiatiewe van die Wêreld- Gesondheidsorganisasie om servikale kanker teen 2030 te beëindig. Die eerste stap is om 90% van meisies teen die ouder­dom van 15 teen MPV in te ent. Deur soveel me­isies as moontlik van nege jaar en ouer in te ent, kan MPV in die vol­gende paar jaar beëindig word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article