Leon-Ben Lamprecht is by die derde Afri-Indie musiekpryse in Pretoria as die beste nuweling-liedjieskrywer in die mansafdeling aangewys.Foto: Engela Duvenage


Die Wellingtonse finansiële adviseur Leon-Ben Lamprecht is nie net in sy vrye tyd ’n kinderboekskrywer en vryskutrubriekskrywer nie – hy het ook ’n musikale kant. Lamprecht is onlangs by die derde Afri-Indie musiekpryse in Pretoria as die beste nuweling-liedjieskrywer in die mansafdeling aangewys.

Die toekennings vereer die werk van onafhanklike musikante, groepe en liedjieskrywers. Bekendes in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf soos Patricia Lewis, Wonderboom, Carike Keuzenkamp en Manuel Escorcio en Boet Pretorius is by dieselfde geleentheid in Pretoria vir hul bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek vereer.

Hy’s veral bekend vir die humoristiese inslag en kommentaar op die alledaagse in sy lirieke. Hiervan is liedjies soos “Die Sommige A-span Ouers Blues” en “Die ballade van Biltong, die Zombie-hond” sprekende voorbeelde. Sy handvol liedjies wat reeds op stromingsplatforms soos YouTube, Spotify en Deezer onder sy naam beskikbaar is, kry stadig maar seker momentum.

Sy volgende liedjie, “Hierdie land”, sal van Vrydag (26 Mei) op stromingsplatforms beskikbaar wees.

“Dis ’n satiriese klaaglied oor Suid-Afrika en oor hoe ons maar moet lag, want anders gaan ons huil. En dat ons moet onthou dat hierdie land aan ons behoort, en nie aan die politici wat ons kaal steel nie,” vertel hy.

As onafhanklike musikant sorg hy self vir die opnames, en die verspreiding daarvan. Dié opnames word almal by Almuir Botha se Blackroom Recordings Studio op Wellington gemaak.

Almuir se seun, Phillip, ’n talentvolle gr. 10-leerder aan Hoërskool Hugenote, het daarby ook vir die “Vyeboompiekniek” se video gesorg – insluitend die illustrasies.

“Almal wat die video al gesien het, is baie beïndruk. Phillip werk ook nou aan ’n tweede musiekvideo vir my, wat in September sal verskyn,” vertel Lamprecht, wat reeds sowat vyf jaar op Wellington woon.

“Vyeboompiekniek,” ook bekend as “Dertien jaar”, is opgedra aan sy vrou, Sonika, as ’n huweliksherdenkings­geskenk.

Lamprecht het op skool koor gesing, al was dit effe onder dwang van sy ma, destyds die musiekjuffrou van die Laerskool Hartenbos. Op laerskool het hy ook klavier leer speel, maar vandag erken Lamprecht dat hy dit destyds “nie so waardeer het soos ’n mens eintlik moes nie”.

Op hoërskool in Mosselbaai het hy ’n vriend oortuig om vir hom kitaarlesse te gee.

Lamprecht is ’n man van vele talente. Sy derde kinderboek, Die Feëtjiepolisiediens, verskyn in September.

Dié oud-joernalis van onder meer die tydskrif Weg skryf gereeld rubrieke vir Netwerk24 en Maroela Media. Hy het onder meer die vermoë om ernstige finansiële kwessies met ’n tong-in-die-kies aanslag heel verstaanbaar en leesbaar vir die leek neer te pen.

Tussen werksverpligtinge en die aankoms van sy drie kinders heen was sy kitaar lank eers weggebêre. Sy kreatiewe krane is egter in die afgelope jaar of wat weer oopgedraai toe hy nader gehark is om met musiekbegeleiding te help by die Oakhill Gemeente in Wellington.

“As ek dink aan liedjieskrywers, dink ek aan Koos Dup wat met 50 woorde hierdie verskriklike, roerende gedig skryf. Ek kan dit nie doen nie. Dinge het egter verander toe my vrou my oortuig het om countrymusiek te begin luister. Daardeur het ek besef dis eintlik net ’n ander manier om ’n storie te vertel.

“Nou’s dit vir my ’n baie lekker medium om in te skryf, met soveel moving parts. Al weet jy nooit wat gaan werk en wat nie.”

Dikwels sal inspirasie vir ’n liriek hom sommer midde-in die werksdag tref.

Lamprecht vertel hoedat hy as reisjoernalis “genoeg tyd weg van die huis af” deurgebring het. Daarom het hy nie groot planne om sommer ver en wyd met sy musiek rond te toer nie.

“Ek maak musiek primêr vir myself,” erken hy.

. Lamprecht is Sondag 28 Mei ’n gas op die televisieprogram Bravo op KykNet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article