Baie plaaslike inwoners en ondernemings kla oor die verwoestende gevolge van Eskom se beurtkrag.

Munisipaliteite word egter net so erg geraak en gaan tiene miljoene aan inkomste verloor as die huidige beurtkragskedules voortduur.

Die verkoop van Eskomkrag is by die meeste munisipaliteite in Suid-Afrika hul grootste enkele inkomste.

Munisipaliteite moet ook, soos die meeste ander instansies, van noodrugsteun­kragopwekkers gebruik maak, wat bedryfsuitgawes laat eskaleer.

Om verder by te dra tot die munisipaliteit se finansiële uitdaging, het baie verbruikers die afgelope jaar sonkragstelsels by hul ondernemings of huise in reaksie op die elektrisiteitsonderbrekings aangebring.

Dit beteken dat energie nie uit die netwerk ontgin word nie, maar uit hernubare hulpbronne.

Hoewel dit uitstekende nuus vir die omgewing is, beteken dit minder elektrisiteit uit die netwerk word deur inwoners verbruik, wat dus tot minder wins vir die munisipaliteit sal lei.

Dan is daar nog bykomende verswarende omstandighede, soos al meer uitstaande skuld deur die publiek, asook krag wat gesteel word deur middel van onwettige verbindings.

By navraag oor kragverliese weens beurtkrag en die feit dat al meer mense hul eie krag opwek deur sonkrag en dies meer, wou die munisipaliteit nie ’n verlies-beraming gee nie.

Bradley Brown, finansiële hoof van die Drakenstein-munisipaliteit, het wel gesê met die munisipaliteit se 2023/’24-begroting word die inkomste uit kragverkope op 50,5% van die algehele inkomstebegroting van die munisipaliteit geraam.

“Die werklike bydrae van die elektrisiteitsdiens tot die munisipaliteit se inkomste moet gesien word as die netto van die begrote inkomste en die grootmaataankope, wat 14,4% is,” sê Brown.

“Wanneer verbruikers in alternatiewe energie belê, is die impak op die munisipaliteit dus nie net aan die inkomstekant nie, maar verteenwoordig dit ook ’n vermindering in die grootmaataankope van die munisipaliteit.

“Om die impak van ’n migrasie na alternatiewe energie te bepaal, is dus nie ’n eenvoudige oefening nie en vereis dat ’n mens na al twee hierdie bydraende faktore moet kyk.

“Die impak van beurtkrag het ook ’n ander faset tot hierdie vergelyking gebring, met munisipaliteite wat nie kan vasstel of afnames in inkomste direk toeskryfbaar is aan ’n migrasie na alternatiewe energie of die impak van beurtkrag nie.

“Die ware impak van verbruikers wat van die netwerk af gaan, sal eers behoorlik gesien word sodra stabiliteit in die nasionale elektrisiteitsnetwerk terugkeer.”

Oor die vraag oor watter verwikkelinge by die Drakenstein-munisipaliteit is met betrekking tot alternatiewe kragbronne vir die vallei, het Brown gesê alternatiewe energie is deel van die munisipaliteit se beurtkrag-weerbaarheidsplan, en hulle ondersoek maniere om alternatiewe energie aan te koop.

“Die munisipaliteit is reeds in gesprek met verskeie onafhanklike kragprodusente oor hierdie aangeleentheid. Behalwe om die tegniese struikelblokke te oorkom om te verseker dat alle munisipale inwoners uit moontlike oplossings voordeel sal trek, vereis elke voorstel ook ’n gedetailleerde finansieringsmodel en kostevoordeel-analise en is dit ook onderhewig aan sekere wetgewende prosedures en goedkeuring deur die raad.”

Brown het voorts gesê die bogenoemde reaksie is baie konserwatief, aangesien die munisipaliteit huiwerig is om syfers op ’n openbare domein aan te haal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article