Ronnie Samaai was ’n ‘staatsman in musiek en inspirasie vir SA’

Ronnie SamaaiFoto: Liezl Davids


Die bekende musiek­pedagoog Ronnie Samaai, wat op 7 Desember tuis oorlede is, sal Vrydag (15 Desember) om 11:00 uit die Bethel Congregational Church, Evansstraat, Paarl, ter ruste gelê word.

Volgens sy vrou, Eileen, is prostaatkanker twee jaar gelede by Samaai gediagnoseer, wat vanjaar teruggekeer en versprei het.

Ronnie is op 26 November in die hospitaal opgeneem, maar sy wens om tuis by sy geliefdes te wees wanneer hy sterf, is toegestaan. Hy was omring van sy familie, onder wie sy vrou en twee dogters, Michelle en Desiree, toe hy vroegoggend op 7 Desember gesterf het.

Hy was 87 jaar oud.

Samaai is op 15 Julie 1936 in die Paarl gebore en was vir byna 59 jaar met Eileen getroud.

Sy nalatenskap sal nog geslagte voortduur. Talle bekendes en struggle-ikone huldig hom.

Die sewe Samaai-broers het almal twee dinge in gemeen gehad: musiek en tennis. David, Ronnie, Gerald en Ivan was almal musiekonderwysers, Vicky en Frankie was lede van David Samaai se bekende Bel Canto-koor en Lennie was ’n klarinetspeler. David was ’n musiekonderwyser by die Hoërskool Noorder-Paarl en Ivan se eerste pos was as musiek­onderwyser by die Hoërskool Bergrivier. Gerald, as tenoor, en Ronnie, as violis, het internasionale roem verwerf.

Engel van God

Ronnie het reeds op skool besluit hy wil musiek sy loopbaan maak. Hy wou baie graag musiek studeer aan die Universiteit van Kaapstad (UK), want dit was die enigste universiteit wat destyds bruin studente toegelaat het. Sy pa het egter nie die geld gehad om hom universiteit toe te stuur nie.

“Pappa moes geld leen by ’n familielid net om my deur die eerste jaar te kry,” het Ronnie aan Le Cordeur vertel.

In hul onderhoud vir Le Cordeur se boek oor sy broer Davy Samaai in sy en Eileen se pragtige huis op Charleston Hill, Paarl, deel Ronnie ’n merkwaardige verhaal met hom.

Op Saterdae het hy deeltyds klas geloop by die UK se Music College. Op ’n dag is hy raakgesien deur ’n wit vrou op die trein na die Rosebank-kampus.

Ná ’n kort gesprek vra sy: “Het jy enige finansiële ondersteuning?”

“Nee, geagte dame, niks nie,” was sy antwoord.

Net daar gee sy vir hom ’n stukkie papier met ’n naam en nommer daarop. “Bel dié persoon. Hy sal help.”

Dit is waar alles vir hom begin het. Tot vandag weet hy nie wie die vrou was nie. “Ek glo tot vandag daardie vrou is ’n engel wat God na my gestuur het,” het hy aan my gesê.

“Ek het een kans gekry. Dit was die kans van ’n leeftyd. Ek glo tot vandag daardie vrou is na my gestuur deur God. Daarom gee ek tot vandag gratis private lesse.”

Wat gebeur het, is dat hy ’n volle beurs van die Oppenheimer-familie gekry het. Ná die voltooiing van sy studie by die UK is hy ’n beurs aangebied by die roemryke Royal College of Music in Londen. In 1970 het hy ook die British Council-beurs ontvang om sy studie aan die Trinity College in Londen voort te sit. Hier het hy onder die wêreldbekende violis Yehudi Menuhin studeer. Ná sy terugkeer uit Londen het hy as musiekonderwyser van die Bethany Congregational School in die Paarl bedank en ’n musiekdosent aan die Bellville Onderwyskollege geword. Hy het as hoof van die musiekdepartement musiekonderwysers opgelei, studeer en die graad BMus aan Unisa verwerf, waarna hy bevorder is tot viserektor, ’n pos wat hy tot sy uittrede in 1997 beklee het.

Gratis lesse en tennis

Dit is nie moeilik om te sien waarom Ronnie so hoog aangeskryf was in die musiekwêreld nie. Die passie was hoorbaar in sy stem.

“Dit is vir my belangrik om my Godgegewe talente met ander te deel. As dit nie vir ’n aslgehele vreemdeling was nie, sou niks hiervan gebeur het nie. Ek het een kans gekry: gratis. Daarom gee ek tot vandag gratis private lesse. My enigste voorwaarde is dat studente nie my tyd moet mors nie.”

Hy was hartseer dat hy weens apartheid nie ’n lid van ’n amptelike orkes kon word nie. Ná sy aftrede was hy ’n raadslid van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes en die stigter van die Kaapstadse Jeugorkes (CTYO). Om klas te gee was vir hom ’n vreugde. Oor die jare het verskeie studente deur sy hande gegaan.

“Toe ek die pos van viserektor aangebied is, het ek vir die rektor gesê net op een voorwaarde: Ek wil steeds klas gee,” vertel hy.

Ronnie se oudste dogter, Michele, is ’n musiekonderwyser in Melbourne, Australië. Sy jongste dogter, Desiree, is ’n balletdanser wat jare lank vir Kruik opgetree het voordat sy haar loopbaan in Engeland voortgesit het, waar sy nou balletklasse by ’n kunsskool in Londen gee.

“Selfs my kleinkinders studeer musiek en speel die viool,” het die trotse oupa destyds by Le Cordeur gespog.

Ronnie Samaai het in 2018 uitgetree as hoof van die Western Cape Music Education Project, wat hy in 1996 in Kuilsrivier begin het. Ná sy aftrede het hy Saterdae klas gegee aan minder­bevoorregte kinders wat deur die week in die skool was en dit andersins nie kon bekostig nie. Die projek bied musieklesse in viool, maar ook in elke ander instrument. Vir Ronnie was dit ’n hartsaak.

Die sewe Samaai-broers was, afgesien van musiek, is en was ook beroemd as tennisspelers. David, die oudste, was die eerste “swart” Suid-Afrikaner wat op Wimbledon gespeel het, en al die broers was besonder goeie dubbelspelspelers wat talle Suid-Afrikaanse dubbelspeltitels gewen het – “want as jy elkeen ’n speelkans wil gee, dan was dubbels die beste uitweg”, het David destyds aan Le Cordeur vertel.

David se beste oorwinnings was met Ronnie, wat ’n baie aanvallende speler was. Dit sou lei tot David en Ronnie se sukses as ’n dubbelspelkombinasie in die 1960’s vir die WP, Boland en Suid-Afrika.

Toekennings

Ronnie het gereeld opgetree as beoordelaar van die Tygerberg-eisteddfod, die Kunstekaap Jeug, die ATKV-musiekkompetisies, die KKNK en by die Woordfees. Hy was ’n lid van die Eoan Group History Project, wat in 2013 die boek Eoan: Our Story oor die geskiedenis van die groep uitgegee het.

Hy het verskeie pryse vir sy werk ontvang – in 2016 die prestigeryke Parnassus-prys van die Universiteit Stellenbosch se konservatorium, waar hy op ’n stadium deeltyds klas gegee het.

Die prys word jaarliks toegeken aan die musikant wat ’n merkwaardige bydrae tot die musiekdomein gemaak het. Die naam verwys na die Griekse berg Parnassus, wat in die Griekse mitologie beskou word as die tuiste van poësie, musiek en onderwys.

Hy het in 2016 ook die Fiësta-prys vir sy lewenslange bydrae tot musiek ontvang. By die oorhandiging van die prys het prof. Winfried Lüdemann, die voorsitter van die konservatorium, hom só oor Ronnie uitgelaat: “Samaai is nou deel van die muses op die berg Parnassus. Hy is ’n staatsman in musiek en ’n inspirasie vir Suid-Afrikaners.”

In reaksie tot al hierdie lofsange het Ronnie gesê: “Ek kan net dankie sê. Ek doen maar net my werk, en ek doen dit na die beste van my vermoë. Ek dra hierdie toekenning op aan my hele familie.”

Suid-Afrika eer Ronnie Samaai as ikoon vir sy bydrae tot die musieklandskap in Suid-Afrika.

. Prof. Le Cordeur is visedekaan vir onderrig en leer (fakulteit opvoedkunde) aan die Universiteit Stellenbosch. Hierdie is deels ’n uittreksel uit sy boek Davy Samaai: Kampioen van die Struggle (Naledi).

Die artikel het voorheen in Die Burger verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article