Heindrich Wyngaard

Credit: SUPPLIED

In Afrikaans is daar ’n hele aantal (beskaafde) gesegdes vir iemand wie se optrede of uitsprake nie sin maak nie: “Jy is van lotjie getik. Jou varkies is nie almal op hok nie. Dalk is jou skroewe los. Of is jy van jou kop af?”

Die minister van sport, kuns en kultuur, Emmanuel Nkosinathi (Nathi) Mthethwa, sal maak dat ’n mens op dié wyse aan hom begin dink.

Waarom? Nie slegs omdat hy ’n multimiljoenrand-vlagmonument-perd opsaal nie, maar ook omdat hy nou die absurde idee uitgedink het dat die Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM) ’n naamsverandering moet ondergaan.

Oor die vlagmonument, wat kwansuis die nuwe vlag as ’n simbool van ons demokrasie moet vier, word hy heeltemal tereg gekasty. Die koste is onregverdigbaar te midde van soveel swaarkry, sê die kritici. En watter verskil, word gevra, sal ’n vlagpaal van 100 m aan maatskaplike kohesie maak?

Maar Mthethwa slaan sy hakke in: Hoe kan dit nie ’n belangrike stap wees nie, wil hy weet, as AfriForum dan kwansuis hof toe gaan “om die ou vlag te verdedig”? Wanneer jy egter na dié burgerlike organisasie se argument luister om dit te verstaan, hoor jy hulle sê hulle het dit teen die hofuitspraak wat die vertoon van die ou vlag – selfs in private ruimtes, soos jou eie huis – as ’n daad van haat­spraak verklaar. Dit sal jou reg op vryheid van spraak inperk, glo hulle. Dit beteken tog nie: “Ons sal lewe, ons sal sterwe” vir die ou vlag nie.

Mthethwa-land

Nou, soos dit aan my vertel word, het Mthethwa sy ATM-idee op die tafel gesit nog voordat sy vlagmonument-malligheid rugbaar geword het. Dit was op ’n vergadering van voorsitters en uitvoerende hoofde van die nagenoeg 30 openbare entiteite wat onder hom val.

Die ATM sou volgens die minister ’n groot deel van die Paarl, waar die monument en museum geleë is, en omliggende gebiede se taalgemeenskappe uitsluit – dit wil sê, sonder om doekies om te draai, die Xhosasprekendes.

Asof hy nie waardering het daarvoor dat die ATM reeds soveel energie en hulpbronne inspan om sy missie te volbring om onder meer “die diversiteit van Afrikaans deur inklusiewe programme en aktiwiteite te bevorder” en om “uit te reik na ander taalgemeenskappe en instellings deur opvoedkundige programme en kulturele aktiwiteite” nie, lyk dit nie of hy daarmee rekening hou dat die ATM voortdurend poog “om wedersydse respek tussen Afrikaans en ander inheemse tale te bevorder deur onder meer die invloede van die verskillende tale op mekaar te erken” nie.

Daarby word ’n verskerpte fokus lank reeds deur die ATM op Afrika-kennisleerstelsels geplaas “as deel van ’n groter dekoloniseringsproses”.

In Nathi Mthethwa-land is ’n naamsverandering egter die hoogste vorm van, wel, verandering – en inklusiwiteit. “Afrikaanse Taalmuseum, you must change your name and that is not negotiable,” was glo sy opdrag op die genoemde vergadering.

Gestroop van identiteit

Dit is dan die agtergrond waarteen lede van die publiek op 28 Mei, as deel van die viering van Interna­sionale Museumdag in die Strooidakkerksaal in die Paarl, ’n geleentheid sal kry om insae te lewer oor ’n moontlike naamsverandering vir die ATM.

Mei is ’n belangrike maand vir die Afrikaanse taal, maar wie weet vir hoe lank dit nog die geval gaan wees? Afrikaans het op 8 Mei 1925 die eerste keer ’n amptelike landstaal geword. En met dié dat ook dr. Blade Nzimande, minister van ­hoër onderrig, wetenskap en tegnologie, die taal se inheemse status nou blyk te erken, is dit betekenisvol dat die viering van Afrikaans as ’n amptelike taal in dieselfde maand as Afrika-dag (25 Mei) geskied.

Watter ander taal het boonop ’n monument en museum wat daarna genoem is, soos wat die geval is met die Afrikaanse Taalmonument en -museum? Om dié rede is ook die viering van Internasionale Museumdag op 18 Mei ’n belangrike teenwoordigheid op die ATM se kalender.

’n Mens hoop dat Afrikaanssprekendes en -groepe in groot getalle by dié geleentheid sal opdaag om hul afkeer aan Mthethwa se idee te kenne te gee. Indien dit nie gebeur nie, sal Mei nie langer ’n belangrike maand vir Afrikaans wees nie. Dit sal die maand word waarin die Afrikaanse Taalmonument en -museum in werklikheid van sy identiteit gestroop is.

Vinger van verwyt

Maar dalk bied die openbare deelnameproses einde vandeesmaand ook die geleentheid om wyer protes aan te teken, byvoorbeeld teen die feit dat Mthethwa hom by herhaling al as onbekwaam vir die portefeulje vir sport, kuns en kultuur bewys het.

Die korrupsieramp met Covid-19-geld vir kunstenaars is een voorbeeld; die vernedering wat Krieket Suid-Afrika tans op die lyf loop oor sy sogenaamde maatskaplike geregtigheid- en versoeningsverhore is ’n ander.

Mthethwa se nuutste mistastings is die vlagmonument-omstredenheid en sy aanslag op die Afrikaanse Taalmonument en -museum.

Selfs al raak pres. Cyril Ramaphosa egter ook op ’n dag van hom as kabinetslid ontslae (moenie geld daarop verwed nie), sal ’n vinger van verwyt steeds na die president wys. Hoe ernstig is sy regering oor die kwessie van maatskaplike kohesie, moet hy vir ons sê, as dié noodsaaklike strewe in die samelewing saam met ’n “sagte” portefeulje – kuns en kultuur – bestuur word?

Dit hoort in die presidensie.

’n Verskerpte fokus word lank reeds deur die ATM op Afrika-kennisleerstelsels geplaas “as deel van ’n groter dekolonise-ringsproses”.

In die woorde van digters

Dié aanhalings verskyn by die ingang van die Afrikaanse Taalmonument:. “Afrikaans is die taal wat Wes-Europa en Afrika verbind . . . Dit vorm ’n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika . . .

“En wat daar groots aan hul vereniging kan ontspruit – dit is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek.

“Maar wat ons nooit moet vergeet nie, is dat hierdie verandering van land en landskap as’t ware aan die nuwe wordende taal geslyp, geknie, gebrei het . . .

“En so het Afrikaans in staat geword om hierdie nuwe land uit te sê . . .

“Ons taak lê in die gebruik wat ons maak en sal maak van hierdie glansende werktuig.”

– N.P. van Wyk Louw

. “As ons nou hier in die saal af ’n ry pale sou plant – tien pale, om die laaste tien jaar voor te stel – en aan elke paal ’n merk sou maak op ’n hoogte van die vloer af wat ooreenstem met die betreklike skryfgebruik van Afrikaans in die respektiewe jaartal, en ’n streep deur die merke trek van die eerste af hier naby die vloer tot by die laaste daar anderkant teen die solder, sou die streep ’n snelstygende boog beskryf – nie net vinnig opgaande nie, maar opgaande na ’n vinnig vermeerderende rede.

“Laat ons nou in ons verbeelding die boog verleng vir die tien komende jare van nou af.

“Sien u, menere, waar die punt sal wees – daar buite in die bloue lug hoog oor Bloemfontein, in die jaar 1924.”

– C.J. Langenhoven. Hiendrich Wyngaardt is ’n sosio-politieke kommentator en die uitvoerende voorsitter van die burgerlike organisasie die Kaapse Forum.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article