Hyron Andrews se skielike dood in Frankryk skok familie, sportgemeenskap

Hyron Andrews op die veld. Foto: Michael Bradley/AFP

Hyron Andrews se skielike dood in Frankryk skok familie, sportgemeenskap


Bloedjonk met ‘n blink toekoms wat nog voor hom lê – só laat Hyron Andrews se dood ‘n groot leemte in nie net sy geliefdes se harte nie, maar ook op die rugbyveld.

Dié 31-jarige Paarliet is die afgelope Vrydag (16 Oktober) in Frankryk oorlede. Hy is bewusteloos in die stort van sy hotelkamer aangetref, waar hy kort daarna – omstreeks 10:20 – dood verklaar is.

LEES OOK: Lions confirm tragic cause of Hyron Andrews’ sudden death

Hyron het ten tyde van sy dood vir die Leeus as slot uitgedraf. Hy en sy spanmaats was in Frankryk vir die Champions Cup waar hulle teen ­­ La Rochelle sou speel. Die wedstryd het ter ere van Hyron voortgegaan.

‘n Minuut stilte is voor die afskop gehandhaaf, en die hartseer kon duidelik op die gesigte van sy spanmaats gesien word, met sommige wat ‘n traan gestort het. Verskeie ander spanne wat die naweek gespeel het, het ook ‘n minuut stilte voor hul wedstryde gehad.

Jowena Andrews, Hyron se tannie, het aan Paarl Post vertel sy skielike dood het hul familie erg geruk.

“Ons harte is gebreek, want Hyron was ons joy and pride gewees. En sy goal was eintlik om ‘n Springbok te word. Hy het ‘n baie bright future gehad. Hyron was baie doelgerig en was ‘n baie humble mens – en sweet. Ja, en hy was ‘n baie goeie pa en ‘n baie goeie man vir sy vrou,” vertel Jowena.

“Sy dood is ‘n groot skok, want ­Hyron was ‘n baie gesonde mens. Hy was aktief. Ons het dit nie van hom verwag nie. Sy vrou se hart is ge­breek met hul twee kleintjies. Haar ma het Saterdag uit Amerika hier aangekom. Sy vrou het ook vertel hy was fine en normal voordat hy weg is. Hyron het baie daarvan gehou om tyd saam met sy familie deur te bring.”

Maighlin Andrews het intussen ook ‘n hartroerende huldeblyk aan haar man geskryf.

“Ek is nie seker of daar ooit ­genoeg woorde sal wees om te beskryf ­hoeveel jy vir my, ons seuns en jou familie, vriende en spanmaats oor die wêreld heen beteken nie. Jy was die allerbeste pa en hulle was jou alles. Ek weet dat ons gesin jou grootste trots was. Ek is so ongelooflik dankbaar vir die tyd wat ons saam met jou kon deurbring, hoewel dit seermaak dat ons tyd saam kortgeknip is. Ons het soveel planne gehad, soveel lewe wat nog voorlê en dinge om te ervaar. Dit voel onwerklik dat ons pas nog in die swembad geswem en vir mekaar gesê het ‘sien jou gou weer’ toe jy lughawe toe is.”

Die paartjie het in 2016 in Durban ontmoet toe Hyron vir die Haaie uitgedraf het en Maighlin ‘n uit- ruilstudent uit Amerika aan die Universiteit van KwaZulu-Natal was. Hulle is in 2022 getroud en het twee seuntjies, Hendrix en Emerson, verwelkom.

Hyron Andrews saam met sy vrou, Maighlin, en hul twee seuns, Hendrix (voor) en Emerson.
Hyron Andrews saam met sy vrou, Maighlin, en hul twee seuns, Hendrix (voor) en Emerson.

Sedert die aankondiging van sy dood het medelye uit verskeie oorde van oor die wêreld heen ingestroom.

Kenneth Uren, hoof van die Laerskool Paulus Joubert, het ook aan die ontslape rugbyspeler hulde gebring. Hyron het sy laerskoolloopbaan in 2008 aan Paulus Joubert voltooi.

“Sy heengaan is ‘n groot verlies – nie net vir sy familie en geliefdes nie, maar ook vir die rugbygemeenskap en almal wat die voorreg gehad het om hom te ken,” sê Uren.

Die Hoërskool Garsfontein, waar Hyron in 2013 gematrikuleer het, het ook sy innige simpatie gedeel.

Hyron het in sy jonger dae ook vir Young Standards RFC in die Paarl uitgedraf. Kevin Benjamin, die president van dié rugbyklub, sê: “Hyron het Young Standards as ‘n junior verteenwoordig – ‘n span wat deur sy pa, Martin van Zitters, afgerig is. Die Van Zitters-familie is legendaries in die ­Standards-familie. Hyron was ‘n rolmodel vir so baie huidige en oud-Standards-­spelers en hulle het na hom opgekyk. Young Standards RFC betuig sy innige meegevoel aan Hyron se uitgebreide familie en vriende en verseker dat sy verlies ook Young Standards RFC se verlies is. Rus sag, ou grote.”

Beide die Leeus en Haaie het eer aan Hyron gebring en hom vir sy bydrae tot rugby bedank. Die Sale Sharks, vir wie hy in Engeland uitgedraf het, sê hulle is verpletter deur sy dood.

“Hyron was ‘n baie geliefde lid van die groep, en almal by die klub verenig in hul boodskap van liefde, gedagtes en innige medelye aan sy vrou, Maighlin, hul pragtige seuns, die res van sy fami­lie en vriende, sowel as almal by Lions Rugby.”

Hyron se ma, Colette Andrews, is einde 2020 weens Covid-19 oorlede.

“Ek bid dat jy saggies heengegaan het, geweet het hoe ongelooflik lief ons vir jou was en jou laaste gedagtes by jou gesin was. Ek bid dat jy altyd oor ons sal waak en ons sal beskerm. Dit bied my troos om te weet dat jy in die hemel herenig is met jou pragtige ma, asook met Ouma en Oupa,” skryf Maighlin.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article