Tony Fredericks

Rasaad Adams

In sy debuutboek, My Getuienis, bied Tony Fredericks, ’n boorling van Paarl-Oos, sy lewensverhaal in alle opregtheid aan en skryf oor hoe hy as 18-jarige die pad byster weens alkohol- en dwelmmisbruik geraak het en 14 jaar tronk toe gestuur is. Dit is daar in ’n enkelsel wat hy sy eerste ontmoeting met God gehad het.

Fredericks het vandeesweek aan Paarl Post vertel dat hy jong mense [deur sy boek] ’n blik wil gee oor die lewenslange uitwerking en gevolge wat “die wêreldse dinge” op ’n mens se lewe kan hê. Daarin vertel hy oor hoe hy op 18-jarige ouderdom ’n moord gepleeg het terwyl hy onder die invloed van alkohol- en dwelms was.

Hy is gevolglik vir 14 jaar gestraf en het sy vonnis by onder meer die Pollsmoor-gevangenis en later in die gevangenis op Helderstroom uitgedien.

Volgens Fredericks het hy op die aand van die moord buite homself opgetree.

“Ek het daardie aand alkohol en dwelms gesamentlik gebruik. Ek was later in ’n onderonsie met iemand wat my geld, wat in my huis gebêre was, probeer steel het.

“Ek het hom op heterdaad betrap. Ons het baklei.

“Ek weet nie waar ek daardie aand ná die moord verdwyn het nie, maar is die volgende oggend soos normaalweg werk toe. Ek het in daardie stadium as ’n petroljoggie gewerk. Dit het vir my gevoel soos ’n droom. Die gebeure van die vorige aand het in my kop afgespeel, maar ek het gedog dit was dalk net ’n droom.”

Hy sê speurders het hom later daardie dag by die werk in hegtenis geneem.

“My saak is by die landdroshof in die Paarl aangehoor en toe later na die hooggeregshof in die Kaap verwys. Ek het die eerste paar maande by die Pollsmoor-gevangenis uitgedien en is toe later na die Helderstroom-gevangenis oorgeplaas.”

In sy debuutboek, My Getuienis, bied Tony Frederic

In sy debuutboek, My Getuienis, bied Tony Fredericks, ’n boorling van Paarl-Oos, sy lewensverhaal in alle opregtheid

Fredericks sê hy wens die tronk aan niemand toe nie.

“Dit was ’n verskriklike plek waar aaklige dinge gebeur het. Jy is heeltemal op jou eie. Die feit dat ek in daardie stadium nog jonk en groot gebou was, het so ’n bietjie in my guns getel.”

Volgens Fredericks het hy by die 26-bende in die tronk betrokke geraak.

“Ek het later ’n bevelvoerder onder ons bendegroep by die Helderstroom-gevangenis geword. Ons het daardie tronk onregeerbaar gemaak. Ons het ons mag op almal afgedwing, insluitend die bewaarders. Dit was regtig die piek van die lewe as ’n misdadiger. Ek was die pad lelik byster.”

Ek het op my knieë gegaan en vir eerste keer God se naam uitgeroep. Dit was nie eens warm daardie aand nie, maar die sweet het by my afgeloop. Ek het myself aan God oorgegee.

Hy vertel een van die senior amptenare by die Helderstroom-gevangenis het een nag ’n gesprek in sy enkelsel met hom kom voer.

“Ons het soos pa en seun gesels. Hy wou weet hoekom ek so uitgedraai het nadat ek ’n rustige mens was toe ek daar ingestap het. Hy het my herinner dat ek ’n eerste oortreder was en gesê hy kon sien hoe lief my familie vir my is. Hulle het destyds sommer met ’n taxi hier aangekom om my te besoek. Dit was ná daardie gesprek dat ek regtig begin reflekteer het op my lewe en al my besluite.

“Ek het op my knieë gegaan en vir eerste keer God se naam uitgeroep. Dit was nie eens warm daardie aand nie, maar die sweet het by my afgeloop. Ek het myself aan God oorgegee.”

Fredericks sê hy het daarna by die tronk se koor aangesluit, wat hoofsaaklik Christelike musiek gesing het. Hulle het naweke vir besoekers buite die gevangenis opgetree.

Hy sê weens sy verandering in gedrag het hy in aanmerking gekom vir parool en hy is in 1997, ná meer as 10 jaar, vrygelaat.

My Getuienis is ’n verhaal oor hoe Fredericks se tyd agter tralies sy perspektief oor die lewe en sy verhouding met God verander het.Foto: Rasaad Adams

Fredericks sê sy lewensverhaal het sy perspektief oor verskeie sosiale kwessies soos misdaad, geweld en verslawing verander.

Sy nuwe perspektief is dat God ’n plan met elkeen se lewe het en dat ’n mens se geskiedenis – met al ons foute – van ons ’n sterker en beter mens maak.

Hy is vir die afgelope 26 jaar ’n evangelis wat preek oor God se goedheid en guns in sy lewe.

Hy sê hy hoop om binnekort sy boek op die rakke van plaaslike boekwinkels te kry. Bestellings kan intussen geplaas word deur Fredericks by 078 660 9581 te kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article