Die 18-jarige Paarliet Nathan Jacobs is besig om vir homself ’n naam in die krieketwêreld te maak.
Hierdie leerder van New Orleans Sekondêr is gewis een vir die toekoms. Wanneer ’n mens by sy ouerhuis instap, sou jy dink hy is die enigste kind in dié huis in die Magnolia-woonstelle. Die huis pronk met foto’s van koerant-uitknipsels en aksiefoto’s van hierdie talentvolle seun. Al die pryse het elk sy spesiale hoekie in die huis.
As jonger seun het hy baie potensiaal getoon in rugby, atletiek en veral krieket, waar hy onder die bekwame hande van die bekende Magnolia-onderwyser, Mark de Villiers, geneem is.
“Meneer De Villiers het baie vir my as seun beteken en ek kan hom nie genoeg daarvoor bedank nie,” sê die nederige Jacobs. “Toe ek die Boland- o.11-krieketspan gehaal het, het ek op daardie ouderdom besluit dit is wat ek eendag wil doen.”
Hy het Boland-kleure in atletiek behaal en het ook die Wes-Kaapse span by die nasionale kampioenskap as ’n 100 m- en 200 m-atleet verteenwoordig. In rugby blink hy ook uit en doen diens as losskakel of heelagter vir New Orleans Sekondêr.
“Ek wil graag Suid-Afrika se volgende AB de Villiers word,” sê hy laggend. “Om vir die Boland-span in aanmerking te kom, moes ons drie proewe speel. Die afrigter, Elton Buziek, het my oupa, Jacky Martin, in Februarie laat weet ek is in die span opgeneem. Ongelukkig is my oupa in April oorlede voordat hy my in my Protea- o.19-baadjie kon sien,” sê hy met trane vlak in sy oë. Hy het op nommer 7 gekolf en die boul-aanval vir Boland geopen.
“Met die nasionale toernooi in Potchefstroom is die nasionale span ná die toernooi afgelees en my naam was op die lys,” sê hy trots.
In 2016 was hy deel van die SA Colts-span.
Sy ouers, Natasha en Randall Martin, glimlag trots. “Ons het in die verlede warm skyfies en hamburgers verkoop om sy toerkoste te dek. Ek moet sê die mense van Magnolia-woonstelle het ons goed ondersteun,” sê Natasha.
Sy pa sê sy werk is net om sy seun se voete op die aarde te hou en toe te sien dat hy hard werk, en om hom te ondersteun. “Ek is baie trots op my seun,” sê hy met ’n groot glimlag.
Melany May, ’n tante, sê: “Nathan was baie stout toe hy klein was, maar ek is net só trots op hom.”
Nathan speel op klubvlak vir Paarl-Oos. New Orleans Sekondêr se sportonderwyser Zynodien Fredericks het hom aan hierdie klub voorgestel. Hy speel ook vlakkie-krieket vir Swoosh.
Jacobs spog met boulsyfers van 5/17 in 9.1 boulbeurte, wat hy in die onlangse toernooi aangeteken het, en kolfsyfers van 134 lopies teen Gauteng.





