Paarliete is erg onthuts oor die onlangse uitspraak van die minister van sport, kuns en kultuur dat die naam van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument verander moet word.

Minister Nathi Mthethwa het onlangs dié uitlating gemaak by die jaarlikse ondertekeningseremonie van die aandeelhouerkompak-ooreenkoms tussen die departement en alle hoofde en voorsitters van die openbare entiteite wat onder sy portefeulje val.

Mthethwa se uitlating het wyd reaksie gelok met ’n groot aantal inwoners wat sterk gekant is teen die moontlike naamsverandering en ander wat meen dat die openbaredeelname-proses eers sy gang moet gaan.

In ’n verklaring, wat deur die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) uitgereik is, het Michael Jonas, die direkteur van die ATM, gesê dié instelling het in reaksie op wat die minister gesê het besluit om ’n konsultasieproses van stapel te stuur om die “haalbaarheid van ’n moontlike naamsverandering te ondersoek”.

Jonas het ook gesê hul eerste stap is om ’n strategiese beplanningsessie met die ATM-raadslede op 26 en 27 Mei te hou, gevolg deur ’n openbare vergadering op Saterdag 28 Mei waar die publiek se insette oor die moontlike naamsverandering gevra sal word.

“Tot dan verkies die ATM se raad en bestuur om nie verdere openbare kommentaar te lewer nie om sodoende nie die proses vooruit te loop nie,” het Jonas gesê.

“Intussen bly ons daarop gefokus om maatskaplike samehorigheid, veeltaligheid, Afrikaans en ander inheemse tale – asook die rol wat hulle in die groter dekoloniseringsproses speel – te bevorder. Ons moedig dus mense aan wat dieselfde voel om die instelling te ondersteun deur ons wye verskeidenheid geleenthede by te woon en om jaarpermitte aan te skaf. Die Taalmonument het ook onder meer oudiogidse in Afrikaans, Xhosa, Engels en Frans beskikbaar waardeur die simboliek van hierdie ikoniese beeldhouwerk verduidelik word,” het Jonas gesê.

Die burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit, Conrad Poole, het sy stem teen die moontlike naamsverandering laat hoor.

“Ek wil vandag (Vrydag 20 Mei) vir die agbare minister sê: Hande af van die Afrikaanse Taalmonument!

“Die monument is ’n ikoniese bewys om erkenning te gee aan al die tale wat bygedra het tot die totstandkoming van Afrikaans. Dit is ’n onlosmaaklike deel van die Paarl en Drakenstein se erfenis en kultuur,” het Poole gesê.

“Die direksie en bestuur van die Afrikaanse Taalmonument is op rekord dat hulle gefokus bly op die bevordering van sosiale kohesie, veeltaligheid, Afrikaans en ander inheemse tale – asook die rol wat hulle speel in die groter dekoloniseringsproses. Om ’n organisasie met sulke edele doelwitte te wil straf, is ongevraagd en verregaande,” het hy gesê.

Poole het ook genoem dat die monument sinoniem is met die Paarl en die Drakenstein-streek en dat dit ’n groot toeriste-aantreklikheid is.

“Om die naam nou te verander is belaglik en maak glad nie sin nie. Ek wil herhaal dat ons in Drakenstein al ons land se amptelike tale respekteer en geeneen kry voorkeurbehande­ling nie.

“As uitvoerende burgemeester glo ek ek praat namens al die mense van hierdie gebied as ek sê die minister moet dadelik sy planne stop. President Cyril Ramaphosa het gesonde verstand getoon toe hy vandeesweek opdrag gegee het dat die minister se besluit om ’n reusagtige ‘monumentale vlag’ op te rig, gekanselleer word.

“Dit sou belastingbetalers R22 miljoen kos. Ek wil minister Mthethwa versoek om dieselfde met sy planne vir die Afrikaanse Taalmonument te doen.”

Poole het gesê indien die minister nie sy planne stop nie, sal hulle alles in hul vermoë doen om hom teen te staan “aangesien ons nie kan toelaat dat hierdie onnodige inmenging voortgaan nie,” het Poole afgesluit.

Die ANC-raadslid Moutie Richards het by navraag gesê die ANC in Drakenstein is deeglik bewus van die ongelukkigheid onder die publiek oor die moontlikheid van Mthethwa se beplande naamsverandering van die Afrikaanse Taalmonument.

“Die departement het onlangs ook bekend gemaak dat daar kommer is oor die stadige pas van transformasie met die naamsveranderingsproses in die algemeen en meer spesifiek met museums in die land. Soos deur die Grondwet bepaal word, sal daar wel ’n deursigtige en openlike openbaredeelnameproses gevolg word om die publiek se insette te kry. Eers daarna sal ’n besluit geneem kan word of die naam wel gaan verander of nie,” het Richards gesê.

Die bekende skrywer en uitgewer Kerneels Breytenbach het ook sy mening oor die kwessie gelug: “Die Afrikaanse Taalmonument het baie gemengde gevoelens uitgelok toe dit in die vroeë jare sewentig opgerig en op 10 Oktober 1975 ingewy is.

“Afrikaanse skrywers is baie selektief na die geleentheid uitgenooi en hulle het toe en masse besluit om die geleentheid te boikot. So het dit toe gekom dat die skrywers ’n soort salon de refusé in die Klub Here XVII in Langstraat, Kaapstad, gehou het met Danie van Niekerk van Tafelberg-uitgewers as gasheer.

“Al die bekendes van die dag was daar en nie by die monument nie. ’n Gedig van Adam Small is by die monument se inwyding voorgelees, maar Small self was saam met die skrywers by die Klub Here XVII,” het Breytenbach op sy beurt gesê.

André Fourie, ’n raadslid van die VF Plus, het gesê juis omdat die ontstaan van Afrikaans soveel ander invloede gehad het, dit die monument inklusief maak. “Die torings van die ATM verteenwoordig elk van hierdie insette in die ontwikkeling van Afrikaans en is juis inklusief.”

Fourie het ook gesê die VF Plus in Drakenstein wil weet “waarom sou die Nati Mthethwa’s, die Blade Nzimande’s en Lesufi’s van vandag juis Afrikaans en die reeds inklusiewe ATM teiken?

“Ons ervaar dit as blatante en moedswillige inmenging, aftakeling, vernedering en onteiening van die basiese geskiedkundige taal- en kultuurregte van alle Afrikaans-sprekendes.

“Bespiegeling en pogings van ’n naamsverandering vir die ATM om die woord Afrikaans uit te laat, is om die hart van die monument uit te ruk, en dit is ontstellend,” het Fourie gesê.

’n Aanlyn petisie teen die naamsverandering is deur die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge) begin.

. The Minister of Sport, Arts and Culture Nathi Mtethwa has caused a huge outcry over his call to have the Afrikaans Language Monument renamed.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article