Die Nasionale Minimumloonkommissie stel vanjaar ’n verhoging in die nasionale minimum loon met inflasie plus een persentasiepunt voor.
Teen die jongste inflasiekoers sal dit lone tot R23,10 per uur verhoog.
Huiswerkers sal dan vir die eerste keer dieselfde nasionale minimum loon as ander werkers verdien.
Dit lyk of die nasionale minimum loon vanjaar met inflasie plus een persentasiepunt sal styg, met minimum betaling vir huiswerkers wat vir die eerste keer met ander werkers ooreenstem.
Luidens ’n kennisgewing van die departement van indiensneming en arbeid het ’n meerderheid van die Nasionale Minimumloonkommissie se kommissarisse aanbeveel dat die nasionale minimum loon met een persentasiepunt bo inflasie verhoog moet word.
’n Minderheid wou hê die minimum loon moet met 1,5 persentasiepunte bo inflasie styg.
Die jongste verbruikersprysindeks (VPI) -koers is 5,5%, wat beteken dat – teen huidige koerse – ’n verhoging van een persentasiepunt (tot 6,5%) die minimum loon tot R23,10 sal verhoog.
Verlede jaar is die minimum loon met 4,5% tot R21,69 per uur verhoog.
Al die kommissarisse was dit eens dat huiswerkers van vanjaar af dieselfde nasionale minimum loon as ander werkers moet verdien.
Tans is die minimum loon vir huiswerkers – teen R19,09 per uur – 12% laer as die minimum loon vir ander werkers.
Dit beteken dat hul minimum loon vanjaar met meer as 20% verhoog kan word, van R19,09 tot R23,10 (teen huidige inflasievlakke).
Die huiswerker- minimum loon is in 2021 met 23% verhoog om dit nader aan die nasionale minimum loon te bring.
Die departement van indiensneming en arbeid het gesê die kommissie sal nou begin om insette en aanbevelings oor minimumloonaanpassings te ontvang.
Die proses, wat deel is van die jaarlikse hersiening van die Nasionale Minimum loon ingevolge artikel 6 (2) van die Nasionale Minimumloonwet, is in Januarie 2019 ingestel, toe die nasionale minimum loon op R20 per uur vasgestel is.
Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, sal ná die openbare kommentaarproses ’n bepaling maak oor die nasionale minimum loon en vir watter sektore dit sal geld.
Die kennisgewing het gelui die Nasionale Minimumloonwet moet ’n meer billike betalingstruktuur prioritiseer om te verseker dat werkers nie in armoede leef nie.
“Hierdie besluit impliseer dat koste vir sommige werkgewers sal toeneem, hoewel breër voordele vir die samelewing vir meer regverdige werkplekke en vergoedingstelsels dit kan verreken.
“Die wet maak voorsiening vir vrystellings vir werkgewers wat werklik nie die aanpassing kan bekostig nie,” lui die kennisgewing.
Die kennisgewing het gesê dat die kommissarisse die stand van die ekonomie oorweeg in die lig van die voortslepende Covid-19 en dus nasionale minimumloonverhogings met die inflasiekoers plus een persentasiepunt voorstel.
“In 2021 het die nasionale minimum loon weer met 1,5% bo wesensinflasie gestyg tot R21,69. Dit het ’n verhoging van 4,5% in die nasionale minimum loon beteken.
“Die proses om die minimum loon vir plaas- en huiswerkers te verhoog, het ook gelei tot ’n verhoging van 16,1% in die minimum vir plaaswerkers en 22,6% vir huiswerkers,” lui die kennisgewing.
Sedert verlede jaar verdien plaaswerkers dieselfde nasionale loon as ander werkers.




