Ontstoke inwoners van Blue Mountain Mews, wat ’n deeltitel is van die Honeydew Country Estate-kompleks in die Bergrivier-boulevard in die Paarl, beweer die huidige besturende agentskap wat die kompleks bestuur, huiseienaars van Blue Mountain Mews kul.
Hierdie bewerings volg nadat huiseienaars se heffings sedert Pinnacle Properties as die bestuursagent op 1 Maart 2023 oorgeneem het, verhoog is, en die heffings “sonder die regte kanale”, dit wil sê nie deur die jaarvergadering nie, gehef is.
Bewerings sluit in dat Pinnacle Properties heffings van Blue Mountain Mews maandeliks aanpas om die boeke van dié deel van die kompleks te laat klop nadat die vorige bestuursagent, Mafadi, die boeke glo tot in die rooi gedruk het.
Ander beweringe sluit in dat 2023 se jaarvergadering nie in die wetlik vereiste tydperk gehou is nie, dat daar nie ’n oudit gedoen is van 2022 se finansiële state nie, en dat diegene wie se rekeninge agterstallig is, hul stemreg op die jaarvergadering verloor het.
Volgens Blue Mountain Mews-inwoners is Mafadi vanaf 1 Julie 2021 deur Honeydew se ontwikkelaar, Wilcrest Construction, sonder ’n kontrak aangestel, en het dinge toe al wankelrig verloop, met onder meer fakture wat gedupliseer is, en 2022 se oudit wat nie gedoen is nie.
Volgens e-pos-kommunikasie met Helenus Sholtz van Wilcrest Construction moes die “onderskeie liggame”, soos die korporatiewe liggaam, self “bestuursooreenkomste” met Mafadi sluit.
“Pinnacle [Properties] het Mafadi [Blue Mountain Mews se vorige bestuursagent] se probleme geërf,” volgens inwoners, maar hulle het ook in dieselfde asem gesê dat dit nie die huidige bestuursagent se optrede verskoon nie.
Die trustees van Blue Mountain Mews en Honeydew se liggame het toe uiteindelik vir Mafadi afgedank en Pinnacle Properties aangestel, met die hoop dat hul frustrasies aangehoor sal word.
Nietemin, het Pinnacle Properties nogtans die beweerde finansiële probleme, wat deur Mafadi geskep is, geërf.
Daarna is Blue Mountain Mews-inwoners weer in die duister gehou.
Die Paarl Post het by Mafadi navraag oor die aangeleentheid gedoen, wat in reaksie gesê het hulle verkies om nie telefonies kommentaar te lewer nie.
Die bewerings
Een van die ernstige aantyging teen Pinnacle Properties wat deur Blue Mountain Mews-huiseienaars gemaak is, is dat heffings agt maande ná die nuwe boekjaar met tussen 250% tot 300% verhoog is en dat al hierdie heffings nie op die jaarvergadering aangekondig is nie, wat teenstrydig is met die Wet op Kommunale Eiendomsverenigings.
Die inwoners wou weet aan wie se deur hulle kan klop om die onreëlmatige bestuur te bespreek, omdat Pinnacle Properties hulle nie aan huiseienaars se noodkrete steur nie.
Die huiseienaars het bewyse van die beweerde finansiële ongerymdhede deur Mafadi aan Pinnacle Properties gestuur, maar die terugvoering was dat Pinnacle Properties Mafadi se finansiële state as “waar” aanvaar, volgens ’n inwoner.
Weens die onreëlmatige heffings en gebrek aan kommunikasie van Pinnacle Properties het sommige huiseienaars geweier om hul rekeninge te betaal, wat beteken het dat sommige regte van hulle weerhou is.
Volgens Paarl Post se e-pos-kommunikasie met Riana Gibson, ’n eiendomsportefeuljebestuurder van Pinnacle Properties, en Nino Haasbroek, voorsitter van Blue Mountain Mews se korporatiewe liggaam, wat hul kommentaar saamgevoeg het, weerhou die bestuursagentskap nie Honeydew-huiseienaars van die jaarvergadering nie.
Maar, die bewysstukke wat aan die koerant gegee is deur huiseienaars vertel ’n ander storie.
In e-pos-kommunikasie tussen ’n Honeydew-eienaar en Pinnacle Properties het die bestuursagentskap die volgende gesê:
“Pinnacle Properties wil [dit] graag onder jou aandag bring dat jou rekening tans ’n uitstaande saldo van meer as 30 dae toon. Gevolglik besit jy nie die voorreg om jou stemreg tydens vanaand se spesiale algemene vergadering uit te oefen nie.”
Die eienaars beweer ook dat Pinnacle Properties onbetaalde heffings wat terugdateer na Mafadi se aanstelling in 2021 by huiseienaars geëis het, sonder om dit by die 2023-jaarvergadering as ’n agendapunt bekend te maak.
Die groot kommer is dus dat sekere huiseienaars moet pa staan vir beide hul maandelikse heffings, asook die teruggedateerde heffings vanaf Mafadi, wat beide nie op die jaarvergadering bespreek is nie.
Volgens Gibson en Haasbroek besluit bestuursagente nie self op verhogings nie, maar eerder ander kenners in die veld.
Dus kan Pinnacle Properties volgens hom nie blameer word vir die onreëlmatige heffings nie.
Nog ’n bekommernis is dat Mafadi nie ’n oudit van 2022 se state, soos ook deur die Wet op Kommunale Eiendomsverenigings vereis word, gedoen het nie.
Die gebrek aan dié oudit het dus veroorsaak dat 2023 se jaarvergadering nie vier maande ná die aanvang van die nuwe boekjaar (op 28 Februarie 2023) plaasgevind het nie, maar eers in Oktober 2023 – nege maande ná die begin van die nuwe boekjaar.
“Die oudit [het] lank geneem, want die ouditeure het gesukkel om terugvoering op navrae vanaf die vorige bestuursagent [Mafadi] te kry,” het Gibson en Haasbroek gesê, en verduidelik dat hulle nie kommentaar kan lewer oor “die rede vir die sloer in terugvoering nie”.
Die inwoners het verduidelik hulle verstaan dat die jaarvergadering vertraag is weens die gebrek aan oudits, maar sê dit is nie “hulle probleem nie”.
“Indien [’n] 2022-oudit gedoen is, sou dinge beter gegaan het,” sê die inwoners.





