Met behuising wat landwyd – maar veral in die Wes-Kaap – gereeld in die kollig is, is nuwe behuisingsgeleenthede vir inwoners van die Drakenstein eersdaags beskikbaar. Buiten 265 nuwe huise wat in die 2023-’24-boekjaar in Vlakkeland beplan word, word 175 nuwe huise ook vir Loverslane in Paarl-Oos beplan.
Volgens Gerald Esau, uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by Drakenstein-munisipaliteit, maak die voorlopige uitleg van die Loverslane-projek voorsiening vir 175 behuisings-geleenthede met ’n primêre fokus op gedienste erwe. “Ingevolge die nuutste [nasionale] beleidsriglyne word alle mense geëvalueer om te kwalifiseer, maar spesiale vergunning word eerste toegestaan aan mense in die volgende afdelings: pensioentrekkers, mense met fisieke gestremdhede en militêre veterane. Indien iemand in een van hierdie drie afdelings val, beteken dit nie dat hy of sy outomaties vir ’n behuisingsgeleentheid in aanmerking kom nie. Só iemand sal steeds aan die nasionale behuisingsriglyne moet voldoen.”
Volgens Esau is die beplanningsfase van die projek in Loverslane in ’n gevorderde stadium en is die munisipaliteit in die proses om die ontwikkelingsregte te bekom sodat die projek so spoedig moontlik kan begin.
“Ná afhandeling van die beplanningsfase volg die aansoek om dié projek te finansier, wat na die departement van infrastruktuur van die provinsiale regering gestuur sal word. Die projek sal ’n volle aanvang neem sodra die finansiering deur die provinsiale regering goedgekeur word.”


