Hier wys Sherilene Matthys hoe die kinders se skoolboeke uitgebrand het. Saam met haar is Coolio Kordom, een van die jongmans, wie ook deur die insident geaffekteer is.Foto: Chantélle Hartebeest


’nFamilie van Dietrichstraat in Paarl-Oos het Sondag (2 April) ’n vlammedood vrygespring, maar die brand wat hul woning in puin gelê het, was nie so genadig teenoor hul besittings nie.

Volgens Sherilene Matthys, wat namens haar familie praat, het sy kort voor 03:00 wakker geskrik toe sy ’n geluid in die straat gehoor het.

“Ek het opgestaan en by die venster gaan loer wat dit is. Toe ek die gordyn voor die venster wegskuif, toe sien ek die vlamme van die brandende huis wat naby my huis op dieselfde erf is.”

Twee huise is op die betrokke erf gebou – een waarin Matthys en haar kinders woon, terwyl haar skoonsusters, hul pa en hul kinders in die ander huis, wat afgebrand het, woon.

“Ek het eerstens my kinders wakker gemaak sodat hulle straat toe kon hardloop. Toe ek uit my eie huis hardloop, het ek my een skoonsuster, Yvonne (Kordom), in een van die slaapkamers van die brandende huis sien staan. Sy het haar kind by die venster uitgehelp en ek het haar agterna gehelp om ook deur die venster te klim.”

Matthys het saam met omstanders die ander kinders, haar skoonpa, Jakobus Matthys, en haar ander skoonsuster, Anelda Matthys, uit die brandende huis gehelp.

“Ons kon absoluut niks van die besittings red nie. Ons het water gegooi, maar dit het niks gehelp nie. Met die aankoms van die brandweer was die huis al heeltemal verwoes.”

Matthys sê sy het kort ná die voorval hul wyksraadslid, Joan Anderson, vir raad en hulp genader. Anderson het glo gesê omdat dit ’n private eiendom is, kan die Drakenstein-munisipaliteit niks doen nie.

“Sy (Anderson) het gesê die mense wat in die huis woon, moet die brandrommel tot by die hek probeer vee, dan kan sy reël dat die vullis opgetel word en dit is eintlik al wat sy kan doen.

“Die huis waarin my twee skoonsusters gewoon het, is ’n huis wat hulle by hul ouers geërf het. My skoonsusters is albei werkloos. Vier kinders wat op skool is en twee jong mans het ook in die huis gewoon.”

Matthys meen die rede hoekom sy die raadslid in die eerste plek genader het, was bloot omdat die nood groot is.

“Die kinders het ook alles verloor – al hul skoolboeke en rugsakke en skoolklere. Die kos wat hulle nog gehad het, het ook uitgebrand. Alles is as. Die kinders en hul ouers het hier buite in net hul nagklere rondgestaan.”

Volgens Matthys het die familie ten tyde van Paarl Post se besoek Sondagaand geen hulp van die munisipaliteit ontvang nie.

Paarl Post het Maandagoggend navraag by die munisipaliteit gedoen oor wat die kriteria is waaraan families moet voldoen voordat die munisipaliteit met noodbehuising, komberse of ’n kospakkie kan help en Paarl Post het ook die familie se ongelukkigheid, dat hulle glo geen bystand van die munisipaliteit ontvang nie, uitgewys.

Teen Maandagaand het amptenare van Drakenstein komberse en ’n kospakkie by die familie afgelewer.

Gerald Esau, Drakenstein se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, het Dinsdagmiddag op die navraag gereageer.

“Kospakkies en komberse is wel aan die gesin voorsien. Rakende hulpverlening aan mense op private eiendom het die munisipaliteit ’n beleid ten opsigte van hulpverlening, wat deur die behuisingsafdeling bestuur word. Kospakkies en komberse word voorsien ongeag die omstandighede van die huiseienaar.”

Esau het nie uitgebrei oor wat die beleid verder behels nie.

. In ’n afsonderlike voorval het ’n brand Dinsdag 28 Maart by ’n skakelhuis in Magnoliastraat uitgebreek. Esau sê die brandweer het die oproep omstreeks 13:12 ontvang en die vlamme is omstreeks 13:34 geblus. Die Drakenstein-plaaswag (DFW) was ook op die toneel en het gehelp om die vlamme te blus. Beide Magnoliastraat 3A en 3B is in die brand beskadig. ’n Informele woning is ook in die proses vernietig.. Die kontaknommers van die Drakenstein-brandweer is 021 872 1404 en Drakenstein-plaaswag is 084 752 8120.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article