Die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur het bevestig dat die R101 (Du Toitskloofpas) tydelik opgemaak is vir verkeer te midde van strukturele skade aan die Hugenote-tonnel nadat ‘n bus Vrydagaand binne die tonnel aan die brand geraak het.
Die Du Toitskloofpas sou tot die einde van Oktober vir verkeer gesluit wees weens padwerke.
“Alhoewel hierdie roete ’n aktiewe konstruksieterrein is, kan toegang onder verkeersbeheer toegelaat word. Daar is twee stop-en-ry-punte in plek.
“Gebruik asseblief hierdie roete met versigtigheid en verwag langer reistye.
“Hierdie reëling sal in plek bly totdat die Hugenote-tonnel weer oopgemaak word,” het Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse LUR vir infrastruktuur Saterdag in ‘n verklaring gesê.

Nog ’n alternatiewe roete is die R301 (Bainskloofpas) tussen Wellington en Worcester.
Hierdie roete is slegs geskik vir ligte motorvoertuie en geen swaar motorvoertuie/vragmotors kan hierdie roete gebruik nie as gevolg van lae rotsformasies.
Motoriste kan ook van die R45 (Franschhoekpas) gebruik maak.
Daar is egter ook padwerke, met verwagte vertragings van tot dertig minute.
‘n Ander alternatiewe roete is die R44 verby Hermon.
Paarl Post het vroeër berig dat een persoon beseer is toe die bus Vrydagaand (3 Oktober) omstreeks 23:00 in vlamme ontaard het.
LEES: Hugenote-tonnel gesluit weens ‘strukturele skade’ ná bus in nagtelike ure brand
Luidens ‘n verklaring deur die Breedevallei-munisipaliteit het die tonnel “strukturele skade” opgedoen en sal gesluit bly totdat herstelwerk voltooi is.
“Die ongelukstoneel is opgeruim maar die tonnel het strukturele skade opgedoen. Dit sal die hele dag gesluit bly totdat ‘n volledige assessering voltooi is,” het die Breedevallei-munisipaliteit gesê.






You must be logged in to post a comment.