Die kaliber van die skoolkoor van Hoërskool Hugenote in Wellington is erken toe hulle die afdeling vir Afrikaanse gemengde kore in die meriete-afdeling van vanjaar se ATKV-Applous-kompetisie gewen het.
Dit volg ná hul optrede Donderdag 4 Augustus in Kaapstad se stadsaal.
Hul oorwinning het beteken die leerders het die volgende oggend douvoordag behoorlik met ’n lied in die hart op ’n langnaweek-koortoer na verskeie dorpe in die Karoo vertrek.
Die ATKV-Applous-kompetisie is die oudste van sy soort vir skoolkore in die land en het vanjaar sy 45ste bestaansjaar gevier.
Vanjaar is die ATKV-Applous se eindronde op twee plekke, Kaapstad en Pretoria, aangebied, met dieselfde beoordelaars by albei rondes.
Skole wat nog nooit voorheen in ’n afdeling van die ATKV-Applous-kompetisie deelgeneem het nie, het saam in die meriete-afdeling deelgeneem. Voormalige wenskole het in die prestige-afdeling meegeding.
Hugenote is eerste in hul afdeling gevolg deur die Hoërskool Rietondale in Pretoria, die Hoërskool D.F. Malan in Bellville se Kamerkoor en die Hoërskool Kemptonpark.
Hugenote se skoolkoor het ook goud vir hul aanbieding van “Seënbede”, “Mens”, “Benedictus” en “Sizongena Laph’emzini” ontvang.
Die spogkoor staan onder leiding van Johann Enslin (dirigent), die musiekonderwyser Marvin Booysen (begeleier), Jan Olivier en TC Gouws (bestuurder).
“Ek is ongelooflik trots op ons fantastiese groep leerders. Hulle het ongelooflik hard gewerk en baie meer ure ingesit as voorheen. Hul fokus, entoesiasme en goeie selfdissipline het die verskil gemaak. Ek is dankbaar om met soveel talentvolle Wellingtonners te kan werk!” het Enslin gesê.
Hy sê meer as 11% van die skool se 833 leerders is lid van die koor en kry sodoende kans om hul liefde vir sang uit te leef. . Die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl se skoolkoor het vierde in die afdeling vir meisieskoolkore in die prestige-afdeling geëindig.




