Hugenote Hoërskool is op verskeie gebiede al gesien as die voorloper van talryke suksesvolle inisiatiewe en projekte.
Die skool is altyd aan die saam dink en droom aan ’n beter en veiliger omgewing vir hul leerders en personeel.
Hugenote glo ook hulle moet betrokke wees by inisiatiewe waarby nie net hulle sal baat nie, maar ook die omgewing.
Afgesien van ander voorloperprojekte soos die astrohokkiebaan en nuwe kafeteria vir sy leerders wat in 2017 voltooi sal wees, het die beheerliggaam dit goed gedink om projekte aan te pak waarby ouers oor die lang termyn, veral finansieel, sal baat.
Die koshuiskomitee het besluit om hierdie inisiatief te steun deur ’n enorme groenprojek aan te durf wat Huis Hugenoot, die skoolkoshuis, heeltemal onafhanklik sal maak van munisipale krag, deur oor te skakel na son-energie. Ná verskeie onderhandelings en tenderprosesse het die maatskappy, RenEnergy, die installasie gedurende die Junievakansie begin.
Die projek is middel Augustus voltooi en die omskakeling is gedoen.
’n Interessante feit is dat vanaf 12 tot 21 Augustus die skool reeds ’n koolstofbesparing gelyk aan 48 bome of 12,564 km (gereis per motor), gehad het.
Die dakke “skitter” behoorlik met al die panele. As deel van die maatskappy se bydrae tot die skool se opvoedkundige been, sal hulle ’n sessie vir al die leerders kom aanbied oor wat presies hernubare energie/krag is asook die impak daarvan op die omgewing.
Hugenote glo dat hierdie die eerste van vele groenprojekte by die skool is.
Deur hierdie tipe inisiatiewe, nie net by die skool nie, maar ook in die dorp en omgewing te bevorder, maak die skool selfs buite sy skoolhek ’n verskil aan sy kinders se gesondheid en toekoms, en steun die skool ook die regering se pogings tot hernubare energie.




